Paaie-owerheid skuld miljoene

Die toekoms van 97 padwerkers in diens van die operateur wat noodsaaklike herstelwerk aan verspoelde paaie in die Noorde doen en weens ?n geldtekort van die Paaie-owerheid (RA) opdrag gekry het om die werk te staak, hang steeds in die weegskaal.

Dit volg nadat die RA teen 17:00 gister nog nie gereageer het op ?n brief wat deur die firma Metcalfe Attorneys namens Mavinga Trading Enterprise CC aan die waarnemende hoof uitvoerende beampte, mnr. Conrad Lutombi, gestuur is nie.

Die RA is in die brief tot gistermiddag tyd gegee om ?n reëling te tref oor hoe dit voornemens is om die meer as N$14 miljoen te betaal wat hy Mavinga Trading Enterprises sedert Maart vanjaar skuld. Dit sluit nie die betaling in vir herstelwerk wat sedert die einde van Mei tot nou gedoen is nie, omdat die koste daarvan nog bereken moet word.

Republikein het intussen betroubaar verneem dat ?n versoek vir dringende betaling deur die RA aan die Ministerie van Werke en Vervoer gestuur is, wat dit weer na die Ministerie van Finansies verwys het.

Mnr. Erkki Nghimtina, Minister van Werke en Vervoer, het ?n navraag hieroor gister na sy Ministerie se mediawoordvoerder, me. Grace Mubonenwa, verwys.

Sy het op haar beurt die skriftelike navraag na haar eweknie by die Paaie-owerheid, me. Hileni Fillemon, gestuur. Geen terugvoering oor wanneer die betaling gedoen gaan word, is teen laat gister nog ontvang nie.

Die RA het sy kontrak met Mavinga Trading Enterprises vir herstelwerk aan distrikspad 3615 (DR 3615) van Oshikuku oor Elim na Onamutuku op 1 Junie eensydig opgeskort. Die kontrakteur doen ook noodsaaklike herstelwerk aan duikslote op die DR 3609-gruispad.

Mnr. Juma Iddi, streekingenieur van die RA op Oshakati, sê in ?n brief aan Mavinga Trading Enterprises die staking van die werk word deur omstandighede buite die owerheid se direkte beheer genoodsaak.

Mnr. Calle Schlettwein, Adjunkminister van Finansies, het gister gesê hy is nog nie oor die situasie ingelig nie en het onderneem om vandag navraag te doen waarom die betaling nog nie geskied het nie.

Voortgesette bouwerk aan die Okahandja-Karibib-pad het agt maande gelede ook op ?n mespunt gebalanseer toe die RA nie in staat was om die kontrakteur, China Henan International Corporation Group (Chico), te betaal nie.

Die Paaie-owerheid het Chico in Oktober verlede jaar N$20 miljoen geskuld, met talle verskaffers en subkontrakteurs in die diensketting wat ook deur die wanbetaling geraak is.

Nghimtina het toe erken die RA ondervind ?n betalingsprobleem, maar het aangevoer dit is deur ?n oponthoud by die Ministerie van Finansies veroorsaak.

?Betalings aan kontrakteurs het agter geraak omdat die Ministerie van Finansies gesloer het met sy prosessering,? het hy destyds by navraag verduidelik.