27.11.2009
Ovamboland: baie om te sien
DIE noordwestelike gebied van Namibië word nie as een van die land se grootste toeriste-aanloklikhede geag nie.
Tog, sodra reisigers die grens by Oshivelo oorsteek, ontvou ’n hele nuwe wêreld met donkies, beeste en bokke wat oral, maar veral die pad, vol staan. Die plat horison word gereeld gebreek deur die makalani-palms wat een een of selfs vier vier saam gebondel is. Tussenin lê die shonas, wat inwoners ná goeie reën van vis voorsien. Maar die vier O-streke (Omusati, Ohangwena, Oshana en Oshikoto, beter bekend as Ovamboland) bestaan nie net uit hutte, palms en diere wat die landskap versier nie, maar ook besige inkoopsentrums en gesellige kuierplekke. Hoe kan reisigers dan sjebeens soos Let’s Push Bar, Water is Life Bar en Rehoboth Bar (ja! in Ovamboland) miskyk?
In hierdie gebied wat slegs sowat 6 persent van Namibië se grondgebied in beslag neem, woon en leef die grootste deel van die bevolking. Hulle is die Ovambo wat in die 15de eeu van Oos-Afrika gekom en hulself hier gevestig het. Hier beoefen hulle landbou, veral met mahango en boer met bokke en beeste.
Die eerste groot dorp is Ondangwa, wat beskik oor ’n lughawe. (Dit is uiteraard makliker en veel vinniger om te vlieg, hoewel die interessanthede dan grotendeels gemis word.) ’n Bietjie suid van Ondangwa is Olukonda, waar die Finse sendingstasie geleë is. Olukonda was een van die eerste Finse sendingstasies in Ovamboland en is in 1871 gestig. Vanaf 1880 tot en met sy sterfte in 1926, was dit die tuiste van die sendeling Martti Rautanen, ook bekend as Nakambale, wat verantwoordelik was vir die vertaling van die Bybel in Ndonga.
In 1889 het hy die eerste kerkgebou in die noorde van Namibië opgerig en vier jaar later is ’n huis gebou. Albei bestaan nog vandag en is in 1992 tot ’n nasionale monument verklaar. Dr. Rautanen en sy gesin is in die plaaslike begraafplaas begrawe, soos talle konings van die Ondonga.
Die museum stal items van die sendingstasie uit, asook artikels van die Owambo se geskiedenis en kultuur. Nog ’n trekpleister wat deel is van die museum, is ’n volledige tradisionele Ndonga-tuiste – ’n buitelugmuseum op sy eie.
Die grootste dorp in Ovamboland is Oshakati, sowat 35 km noord van Ondangwa. Hoewel daar geen toeriste-aanloklikhede hier is nie, is daar baie om te sien en is ’n besoek aan die opemark interessant. Daar is ook geen tekort aan eetplekkies langs die pad nie, maar vir diegene wat kitskos verkies, is daar darem ook ’n KFC.
Verder noord op pad na Ruacana is Uutapi (ook bekend as Ombalantu) waar reisigers by die ou barakke ’n draai kan maak om eerstehands ’n kapel binne ’n boomstam te sien. Ruacana, wat bekend is vir sy waterkragskema, is sowat 200 km noordwes van Oshakati geleë. Die dorp bied blyplek aan mense wat op een of ander wyse betrokke is by die kragsentrale en dus is daar nie veel vir besoekers nie. Dit is juis die waterkragskema wat meeste van Namibië se krag voorsien.
Die Ruacana-valle is ’n gewilde besienswaardighed, hoewel die water nie gereeld vloei nie. Die personeel is baie vriendelik en reisigers kan by die ingang vra of hulle ’n toer van die kragsentrale mag onderneem.
Ten einde die drie 80 megawatt turbines, transformators en skakelgerei te akkommodeer, moes meer as 400 duisend kubieke meter rots langs die river verwyder word. Water van die Kunenerivier word deur ’n reeks damme en ’n dwarsmuur gereguleer om deel van die vloei tot bo op die berg te kanaliseer. Wanneer dit ten volle operasioneel is, genereer die drie turbines sowat 240 megawatt krag.
‘n Hanetree van die kragsentrale is Hippo Pool wat deel is van die Otjipahuriro-kampterrein. Hier het die Himbas beeste geoffer om hul voorvaders te paai. Vandag kan gaste wakker word met die geluide van seekoeie, voëls en die nabygeleë Ruacana-valle. Daar is verskeie staanplekke met braaigeriewe onder mopanie- en akasiabome. Warm water en omgewingsvriendelike toilette maak ’n oornagslaap baie gerieflik.
Wes van Ruacana lê die Kaokoveld. Daar is ’n grondpad wat van Ruacana langs die Kunenerivier oploop tot by Epupa-valle, sowat 125 km verder stroomaf. Die pad hierheen is egter swak en ’n 4X4-voertuig is ’n vereiste.
Die Uukwaluudhi-bewaringsgebied is sowat 5 km oos van Omukange, ’n nedersetting wat op die kruising van die C41-pad na Opuwo en die C35-pad na Ruacana geleë is. Die gebied is 143 700 ha groot en is deur die Regering as ’n bewaringsgebied afgekondig.
Die Tsandi tradisionele tuiste is waar die koning van die Uukwaluudhi, een van die sewe Ovambostamme, tuisgaan. Hier kan reisigers die mense van Ovamboland ontmoet en meer leer van die plaaslike kultuur en lewenswyse. Handgemaakte items soos mandjies, houtbekers en kleipotte is hier te koop. Ingesluit in ’n besoek aan die tuiste is ’n begeleide toer na die monument by Ongulumbashe, wat die aanvang van die vryheidstryd in 1966 herdenk. Dit is sowat 100 km vanaf Oshakati geleë.
En wie sê hierdie gebied het niks om te sien nie!