25.07.2008 Outjo-moordverdagtes in Hoërhof
SES mans wat aangekla word van die moord op ’n jong boer van Outjo, mnr. Daantjie van Vuuren (30), in Desember 2006, het gister tot die verbasing van hul nuutaangestelde regsverteenwoordiger hul eerste verskyning in die Hoërhof in Windhoek gemaak.
Mnr. Boris Isaaks is onlangs deur die direktoraat regshulp aangestel om mnre. Immanuel Isako, Willem Pieter, Gert Ooshahed, Japhet Schabeb en John Ganachab te verteenwoordig. Hy het die hof egter tydens die voorverhoorverskynings meegedeel dat hy onder die indruk was dat die saak steeds op Outjo is en dat hy nie daarvan bewus was dat dit reeds na die Hoërhof oorgeplaas is nie.
Die sesde beskuldigde, mnr. Johannes Heiki, het Regter Collins Parker ingelig dat hy niks met die moord op mnr. Van Vuuren te doen gehad het nie en “nie hier hoort nie”. Hy wou aanvanklik sy eie verdediging waarneem. Die Regter het hom egter meegedeel dat die klagte teen hom baie ernstig is en hom aangeraai om sy besluit in heroorweging te neem. Mnr. Heiki het gevolglik onderneem om ook vir regshulp aansoek te doen.
Mnr. Heiki is die enigste beskuldigde wat tans op borg vry is. Die ander vyf beskuldigdes moet in aanhouding bly tot hulle volgende voorverhoorverskyning op 18 September. Wyle mnr. Van Vuuren het die mans glo op heterdaad betrap toe hulle besig was om vee op die plaas Molden in die distrik Outjo te steel.
Die mans het hom toe na bewering met ’n jaggeweer in die maag geskiet en met sy bakkie weggejaag ná hulle hom vir dood langs die pad gelaat het. Mnr. Heiki is aanvanklik van regsverydeling aangekla omrede hy na bewering die moordwapen en ammunisie ná die moord versteek het. Beskuldigde nommer een, mnr. Isako, wat reeds ’n vorige veroordeling vir veediefstal het, was ten tye van die voorval op parool ná hy vier maande van sy vonnis uitgedien het.
|