8.03.2010 Orde ondersoek Bennie Venter
DIE onlangse Hoërhof-uitspraak waarin Regter Sylvester Mainga vir mnr. Bennie Venter van Gobabis weens sy “oneerlikheid” geroskam het nadat hy ’n verkooptransaksie met plase laat lyk het na ’n leningsooreenkoms om die Wet op Grondhervorming te omseil, het die prokureur nou by die res van sy professie in die warm water.
’n Regsetiese en ondersoekkomitee van die Prokureursorde van Namibië gaan ’n ondersoek na sy hantering van die transaksie doen. Dit kan tot ernstige tugstappe teen mnr. Venter lei. Volgens me. Retha Steinmann, direkteur van die Prokureursorde, is die uitspraak Donderdag deur die raad bestudeer waarna besluit is om dit na hierdie komitee vir ’n dissiplinêre ondersoek te verwys.
Regter Mainga het onlangs die ooreenkoms waarin mnr. Jan-Harm Labuschagne sy plase Haarlem en Sukses by Gobabis deur mnr. Venter se bemiddeling aan ’n Suid-Afrikaner verkoop het deur die transaksie as ’n leningsooreenkoms te vermom, as oneerlik beskryf en dit nietig verklaar. Mnr. Venter het N$100 000 se kommissie asook ’n trekker ter waarde van N$70 000 uit die transaksie verdien.
Mnr. Labuschagne het die Hoërhof verlede jaar met ’n dringende aansoek genader nadat mnr. Waldermar Strauss, die Suid-Afrikaner aan wie hy sy plase in 2008 vir N$8,7 miljoen “verkoop” het, nie die eerste paaiement van N$1,5 miljoen betaal het nie. Die ooreenkoms is so opgestel dat dit lyk asof mnr. Strauss die geld aan mnr. Labuschagne leen in ruil vir die vruggebruik.
Daar is verder ooreengekom dat die 80-jarige mnr. Labuschagne sy testament sou verander en die plase aan mnr. Strauss bemaak. Regter Mainga het mnr. Labuschagne en die respondente, mnre. Venter en Strauss, daarvan beskuldig dat hulle die Hoërhof “met vuil hande” genader het en dat die hof dit eintlik aan hulle moes oorlaat “om die gemors wat hulle geskep het self op te los”.
Hy het in sy uitspraak vir mnr. Venter daarvan beskuldig dat hy die “ingenieur” was van hierdie oneerlike transaksie en dat hy doelbewus artikel 17 van die Wet op Grondhervorming wat bepaal die staat die eerste opsie moet hê om plase te koop, geskend het.
Die Ministerie van Grond en Hervestiging het verlede jaar in opdrag van Agribank ’n ondersoek gelas na die omvang van die verskanste vorme van grondverkope omdat al minder plase vir die staat aangebied word en die grondhervorminsprogram daaronder ly.
Volgens mnr. Dana Beukes, registrateur van aktes, het die ondersoek getoon dat tien plase tussen Januarie en November verlede jaar deur middel van die oordrag van die vruggebruik in ander eienaars as die Regering se sakke beland het.
|