Advertensie
Advertensie

Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Lesers 2010


Kyk saam!

Moorddossier


Advertensie
Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

25.08.10

Skaduwêreld ontbloot

23.08.10

Ongeluk eis bekende

23.08.10

Nujoma: Vat die grond

24.08.10

Tragedie in sjebeen

9.02.2010

Oranjerivier sluit grensoorgang

© Verskaf
Die pont by Sendelingsdrif is sedert Saterdag in onbruik weens die stygende vlak van die Oranjerivier.

Die pont by Sendelingsdrift is gesluit terwyl die Oranjerivier by Noordoewer sy hoogste vlak in 22 jaar bereik het en die rivier teen gister nog nader aan die 7 meter gestyg het.

Die verwagting is dat die rivier teen die einde van die week tot 8 meter sal styg. Tydens 1974 was die hoogste vlak in die Oranjerivier by Noordoewer gemeet toe dit 11,39 meter bereik het.

Veertien jaar later het die rivier weer die 11 meter oorskry en die brug by Noordoewer oorstroom. Die brug is sowat 11 meter hoog.

Volgens mnr. Quintin Hammond, ’n lid van die hidrologiese span wat die situasie langs die laer Oranjerivier monitor, is daar tans geen gebied wat oorstroom is nie.

“Ons verwag egter dat van die landerye laer af langs die rivier teen Donderdag en Vrydag oorstroom sal word.”

Hy sê dat die rivier sedert Sondag baie vinnig styg en skat dat dit ’n vlak van tot 8 meter teen Vrydag sal bereik. Die span sal tot Sondag op Noordoewer die situasie waarneem.

Die Oranjerivier was gister 6,40 meter hoog toe dit binne ’n dag met 53 cm gestyg het. Die pont by Sendelingsdrift sal eers weer gebruik word as die rivier se vlak begin afneem.
© Verskaf
Die Oranje-rivier by Rosh Pinah.

Volgens mnr. Wayne Handley, hoofbewaarder van die Ai-Ais Nasionale Park, is die middelste kabel wat die pont oor die rivier trek onder water. Die rivier word hier op sowat 6 meter hoog geskat.

Voordat die pont egter weer gebruik word, sal skoonmaakwerk eers moet plaasvind om modder te verwyder.

Volgens die rivierverslag kom steeds geen verandering in die Oranjerivier se patroon voor nie. Die hoogtepunt het by die Oranje/Vaal samevloeiing (Katlani) verby beweeg en watervlakke het hier begin daal. Die vlak by Katlani was gister 6,40 meter nadat dit met 42 cm gesak het.

Intussen het duisende mense die naweek na die Augrabiese Nasionale Park in die Noord-Kaap gestroom om die waterval wat in rekordvloed was, te aanskou.

Die park is langs die Oranjerivier sowat 120 km in die westelike rigting vanaf Upington geleë. Binne die park stort die Oranjerivier 56 meter na benede.

Meer as 2 800 m³/s water was teen Maandagoggend besig om in die granietravyn te stort. Die vorige vol waterval was in 2006 toe die watervloei die volume van 1 963 m³ per sekonde bereik het.

Die Augrabies-val is nou die hoogste sedert 1988 en die watermassa word verwag om teen Woensdag te begin afplat.

By Rundu neem die vloed in die Okavangorivier verder af en Nampa berig dat vloedslagoffers wat na die Kaisosi-gebied op die uithoek van Rundu getrek het, van tente voorsien is

Die vloedslagoffers bestaan uit 26 huishoudings met 22 kinders wat langs die immigrasiekantoor langs die Okavangorivier gewoon het. Sedert die groep op 28 Januarie daarheen getrek het, slaap hulle in ’n oop ruimte sonder tente.

Hulle het eers Vrydag sowat 15 tente van Rundu se dorpsraad ontvang.
Volgens die woordvoerder van die vloedslagoffers, mnr. Andy Kalwako, het hulle self besluit om te trek nadat hulle besef het dat die rivier se vlak vinnig styg.

Die rivier het reeds van hul besittings soos klere, komberse en kos vernietig. Die slagoffers het ’n beroep op die Kavango-streekraad en die plaaslike tradisionele owerheid gedoen om ’n plek vir hulle te vind waar hulle permanent hervestig kan word aangesien hulle vrees dat die vloed hulle in die toekoms weer sal tref.

Die vlak van die Okavangorivier by Rundu was gister 7,39 meter hoog nadat dit met 7 cm gesak het. Verlede jaar die tyd was die rivier 5,04 meter hoog.

Voorts styg die watervlak en die vloei van die Zambeziriver by Katima Mulilo stelselmatig. Die rivier het met 8 cm gestyg en was gister 2,88 meter hoog.

Die Cuvelai-oshanas het weer begin vloei en by die die Shanalumono-stasie in die hoof Cuvelai-oshana (na Endola, Okatana en Oshakati) was die vlak gister 0,6 meter hoog teenoor verlede jaar se 0,42 meter.