Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


3 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

1.02.2010

Oranjerivier in vloed

© Michelle Steyn, News24
Só lyk die Vaalrivier in Suid-Afrika nadat damme in die Vaalrivierstelsel se sluise sedert verlede week oopgemaak is en massas water uitgelaat is om die damvlakke te laat sak. Die Vaalrivier sluit by die Oranjerivier aan.

’n WAARSKUWING is uitgereik aan mense wat langs die laer Oranjerivier woon met massas water wat vanaf Suid-Afrika op pad is en waarvan die eerste vloedgolf reeds vanoggend by Noordoewer verwag word.

Terselfdertyd het die hidrologieafdeling in die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou inwoners langs die Kavango- en Zambezi-rivier gewaarsku om op hul hoede te wees vir moontlike vloede wat hier kan voorkom.

Met swaar reën wat die afgelope tyd oor die sentrale en noordoostelike dele van Suid-Afrika voorgekom het, het damme in die Vaalrivierstelsel, soos die Bloemhof- en Vaaldam, se vlakke tot oorlopens gestyg.

Die damme se sluise is reeds Donderdag die eerste maal oopgetrek om water uit te laat en hul vlakke te laat sak. Volgens die daaglikse rivierverslag was die Bloemhofdam gisteroggend 118,1 % vol.

Water is teen 3 200 m³/s uit die dam gelaat terwyl dit teen ’n maksimum spoed van 3 500 m³/s in die dam gevloei het. Saterdag was water nog teen ’n tempo van 2 700 m³/s uit die dam gelaat, maar dit is vermeerder namate meer water in die dam gevloei het.

Weervooruitsigte is dat reën in dié dele van Suid-Afrika sal afneem en dat die situasie in die komende week tot normaal sal terugkeer.

Die vloedgolf beweeg tans in die laer Oranjerivier af en omdat die water wat uit die dam gelaat word, vermeerder is, sal watervlakke en vloei in die rivier in die komende week styg.

Die eerste styging in watervlakke is Saterdagoggend by Upington aangemeld en dit word verwag dat dit Noordoewer vandag sal bereik. Teen die einde van die week sal die watervlak by die Noordoewerbrug van sy normale 0,50 of 1,00 meter waarskynlik tot hoër as 7 meter gestyg het.

In 1996, toe 2 400 m³/s water uit die Bloemhofdam gelaat was, was die watervlak by Noordoewer onder die ses meter hoog.

Volgens die rivierverslag is dit egter moeilik om vas te stel watter dele oorstroom sal word, skade sal lei of deur die vloedgolf ontwrig sal word, maar mense langs die laer Oranjerivier moet ’n hoë vlak van gereedheid handhaaf.

Intussen is die vroeë reën tydens die seisoen in die laer opvangsgebied van die Kavangorivier by Rundu steeds besig om watervlakke op te stoot. Die watervlakke het egter sedert Sondagoggend gestabiliseer.

Die rivier se vlakke is veel hoër in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar, maar die groot vloedgolf het eers in Februarie en Maart ’n maksimum vlak van 8,65 meter bereik.

Die Kavangorivier was gister 7,67 meter, 11 cm hoër as die vorige dag, terwyl dit die vorige jaar 5,06 meter hoog was.

Volgens die rivierverslag is hidrologiese toestande só dat selfs normale reënval hoë vloedgolwe kan veroorsaak en dus moet mense op hul hoede wees.

By Katima Mulilo styg die watervlakke en vloei in die Zambezirivier stelselmatig. Die westelike deel van die rivier toon hoër vloei in vergelyking met verlede jaar en in 1969 toe die rivier sy rekordvlak bereik het. Die Zambezirivier was gister 2,39 meter hoog teenoor verlede jaar toe dit 2,64 meter was.

Verder is die vloeisituasie in die Cuvelai redelik stabiel met lae vloei en min of geen reën wat die afgelope dae voorgekom het nie. Verlede week het die Angolese nuusagentskap Angop egter vloede verder noord in die Ondjiva-gebied aangemeld.

Die beste nuus is dat die nuwe vloedwater nie van die hoofrivier tot die noorde (verby Evale) gekom het nie, maar van die syrivier tot die ooste (verby Anhaca) waar veel meer reën geval het.