24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

8.03.2010

Opposisie veg voort

DIE land se hoogste hof gaan versoek word om nege opposisiepartye se mislukte aanslag op die geldigheid van verlede jaar se verkiesingsuitslae in heroënskou te neem.

Agt van die aansoekers het Vrydag ná ’n vergadering met hul regslui eenparig besluit om dringend by die Appèlhof kapsie te maak teen die Hoërhof-uitspraak waarin Regterpresident Petrus Damaseb en Regter Collins Parker Donderdag die verkiesingsgeding met koste van die rol geskrap het.

In ’n nuusvrystelling gister deur die Rally for Democracy and Progress (RDP) sê die aansoekers: “…Ons is oortuig dat geregtigheid nie geskied het nie en al wil ons ons weerhou daarvan om die regbank en/of enige lid daarvan aan te val, kan ons nie anders as om te sê dat die beslissing ’n fout was nie.”

“…Ons betoog nederig dat geregtigheid nie toegelaat is om hoogty te vier in die saak nie. Ons was nog altyd onder die indruk dat die regbank, wat volgens die Grondwet veronderstel is om ’n onafhanklike orgaan van die staat te wees, net sou optree in die beste belang van die land en sy mense en daarom, altyd sou verseker dat die hoogste wet van die land, naamlik die Grondwet, gerespekteer en te alle tye nagekom word,” voer die partye aan.

“In hierdie saak het ons van die Hoërhof van Namibië verwag om die getuienis te oorweeg wat voor die hof gedien het, aangesien ons oortuig is dat die verkiesings wat in Desember (sic, November) gehou is heeltemal gebrekkig (beknoei) was en dat die uitslag van genoemde verkiesings hoegenaamd nie die ware wil van die mense weerspieël nie en daarom die sleutelbeginsel van demokrasie geskend het.”

Oor die onpartydigheid van die regbank het die aansoekers ná verlewe week se skokbeslissing duidelik snuf in die neus. Die sleutelgronde vir die Hoërhof se bevinding was dat die aansoek laat ingedien is sonder om behoorlik vir kondonering te vra. Volgens die aansoekers het Regter Damaseb egter ná ’n snerpende aanval deur me. Pendukeni Iivula-Ithana, Swapo se sekretaris-generaal en Minister van Justisie, oor hoekom die aansoek aanvaar is, persoonlik tussenbeide getree en verseker dat alles in orde was.

“…Volgens ’n dokument in ons besit (het hy, Regter Damaseb) verduidelik dat hy behoorlik ingelig was…” lui die verklaring. “Dit het daarom as ’n groot verrassing gekom toe die Regterpresident homself oor die vorige verklaring weerspreek het.” Die aansoekers hou steeds vol dat die griffier, soos male sonder tal in ander sake gebeur, haar toestemming gegee het dat hulle hul hofstukke buite die voorgeskrewe ure kon indien.

“Ons wil dit BAIE duidelik stel… dat die aansoek nie na 15:00 op 4 Januarie 2010 ingedien is omdat ons nie reg was nie,” benadruk die verklaring. As die griffier die versoek geweier het, sê die aansoekers, sou hulle dit so aanvaar het. Hulle argumenteer dat die Hoërhof uit die staanspoor kon weier om na die saak te luister as dit dan weens tegniese oorsigte gedoem was. Selfs al was die aansoek laat, word die feit volgens die aansoekers totaal oorskadu deur die meriete van hul saak en die gevaar waarin demokrasie verkeer.

“Die uitspraak, by implikasie, suggereer nou dat ’n gewone administratiewe reël van die griffier se kantoor belangriker is as ’n substantiewe grondwetlike reg (burgers se reg om te kies wie hulle in die parlement verteenwoordig),” voer die verklaring aan.

Die Hoërhof se opmerking dat dit tot “wetteloosheid” kan lei as die griffier reëls na willekeur kan buig, skep volgens die aansoekers die indruk dat dit ’n groter “misdaad” is om toestemming vir ’n laat aansoek te gee as om nasionale verkiesings te bewimpel. Die aansoekers verwerp opnuut alle aantygings dat hulle die land probeer “destabiliseer.”

Volgens die nuusvrystelling is die geding uit niks anders gebore nie as “massiewe druk van diegene… wat deur die verkiesingsproses verraai gevoel het.” Die partye sê hulle het die volste vertroue dat hul “rasegte Namibiese” regspan op appèl ’n oorwinning sal behaal.

“Ons sal nie ons verantwoordelikheid versaak om te doen wat nodig is om te verseker dat die basiese beginsels van ons demokrasie, deur die bepalings van ons Grondwet, deur almal, insluitende die ECN (Verkiesingskommissie), nagevolg en gerespekteer word nie,” benadruk die aansoekers.

“…Hierdie keer sal ons nie stop tot ons ware geregtigheid gekry het nie,” sê die verklaring. “Ons doen dit vir almal wat ná ons sal kom…” Die koste van verdere regstappe en enige moontlike negatiewe sweepslageffek by die stembus wanneer Namibiërs in November vanjaar landwyd hul kruisies in plaaslike en streekverkiesings moet trek, het volgens mnr. Henk Mudge, leier van die Republikeinse Party (RP), tydens Vrydag se gesprek veel ligter geweeg as ’n stryd oor kernbeginsels in die demokrasie.

“Dit is nie ’n kwessie dat ons ten alle koste blindweg voortveg nie. Daar is eenvoudig net te veel op die spel,” het mnr. Mudge gesê. “Natuurlik gaan dit finansieel swaar met die partye,” het hy erken. “Maar ons doen dit nie vir ons eie gewin nie. Kry, sal ons die geld van iewers kry.”

Die NDMC was al party wat nie verteenwoordig was by Vrydag se byeenkoms nie. “Dit is eenvoudig,” het mnr. Frans Goagoseb, leier van die NDMC, verduidelik.

“Kom ek sê eerlik vir jou ons het nie geld nie, so ons kan net ’n party in die geding bly as ons nie finansieel hoef by te dra nie.” Die saak is dusver deels gefinansier uit Jan Alleman se bydraes tot ’n regsfonds wat die verskillende partye in die lewe geroep het. Die ander aansoekers is die APP, CoD, DTA, NDP, Nudo en UDF.