OPPOSISIEPARTYE het die week skouer aan skouer gestaan in hul skerp veroordeling van mnr. Jerry Ekandjo (foto) se aantygings Maandag dat hulle glo verantwoordelik is vir voortgesette intimidasie en geweld wat deur ondersteuners van die regerende party gepleeg is.
Dié truuk van Swapo se sekretaris vir inligting en mobilisering is volgens talle opposisieleiers ’n argaïese propaganda-truuk om elke bietjie steun te werf vir ’n party wat na hul mening baie onseker is hoe sake in November by die stembus gaan uitdraai.
Behalwe vir hernude skermutselings met die Rally for Democracy and Progress (RDP) die afgelope naweek op Oshakati, is twee jeugdige kongresgangers van die Republikeinse Party (RP) volgens mnr. Henk Mudge Vrydagaand in Katutura aangeval deur Swapoondersteuners wat hul T-hemde met die kleure van eersgenoemde party verwar het. Een meisie se hemp is letterlik van haar lyf geskeur. Die RP is besig om ’n kriminele klag oor die voorval voor te berei.
Volgens mnr. Mudge plaas Swapo groot vraagtekens agter hul verbintenis tot vry en regverdige verkiesings en die ooreengekome gedragskode vir partye.
Hy dink Swapo moet vanaf die heel hoogste vlak in eie kringe die voet ferm dwars sit om vir almal te wys dat ook hulle bereid is om die kleinste vonkie in ’n moontlike kruitvat dood te smoor. Stilte en die verskuiwing van blaam, sê mnr. Mudge, is so goed soos kondonering.
“’n Mens moet die soort uitsprake verwerp met die minagting wat dit verdien.”
“Hy slaan op leë dromme,” was mnr. Hidipo Hamutenya van die RDP se kommentaar op mnr. Ekandjo se uitlatings.
Behalwe dat volgens hom absoluut geen gronde vir mnr. Ekandjo se verbeeldingsvlug bestaan nie, het die opposisie geen rekord van sulke wangedrag nie.
“Ons is ook nie van voorneme om nou te begin nie,” het mnr. Hamutenya verseker.
“Dit is egter deel van Swapo se styl en rekord, en nou word ander blameer.”
Volgens mnr. Katuutire Kaura van die DTA wys die snert wat mnr. Ekandjo praat dat hy kennelik “dronk van sy eie woordeskat” is.
“Daar is niemand wat sulke dinge doen nie,” het mnr. Kuaima Riruako van Nudo beaam. Mnr. Ekandjo moet volgens hom liewer name noem as om met hael te skiet.
“Dit is belaglik,” was mnr. Ben Ulenga van die CoD se reaksie.
“Hoe kan die opposisie verantwoordelik wees as die oortreders, sommige van hulle erkende lummels, in Swapo-kleure getooi is? Almal het bewyse.”
“Mnr. Ekandjo weet net Swapo kan dit doen,” het mnr. Justus Garoëb van die UDF aangevoer.
“Ons het dit mos uit die perd se bek gehoor,” het hy oor mnr. Nujoma se onlangse opruiery op Ongwediva bygevoeg.
“As die Vader van die Nasie sulke uitsprake maak, wat kan ons van mense verwag wat ten alle koste wil wen?”
“Jerry se kommentaar is totaal onmoontlik,” het mnr. Ignatius Shixwameni van APP gesê. “Hy weet goed wie skuldig is.”
Die APP meen dit is gepas dat die Verkiesingskommissie (ECN) self sy stem dik maak.
“Die hele Swapo-filosofie is een wat nog altyd daarop gebaseer was om altyd die ander man die skuld te gee,” het mnr. Kosie Pretorius van MAG opgemerk.
In ’n party waar almal in mnr. Nujoma se buite beheer spoor moet trap, is dit volgens hom te verstane as “die ou wat nie weet wat aangaan nie klippe begin gooi.”
“As dit nie Swapo is nie, wie is dit dan?” het mnr. Gerson Veii van Swanu gevra.