13.01.2009 Oplossing naby, al veg skaapboere weerKleinveebemarkingskema
ONDERWYL ’n groep kleinveeprodusente wat aanvoer hulle praat namens “diegene op voetsoolvlak” vandag op Keetmanshoop steun gaan werf vir ‘n versoekskrif wat eis dat die grens vir skaapuitvoere oopgaan, is die georganiseerde landbou en abattoirs reeds weke lank kliphard agter die skerms besig om aan ‘n oplossing te werk.
Die proses is ver gevorder om tussen dié twee partye wat tot onlangs nog aartsvyande was, ‘n voorstel te finaliseer wat hulle meen ‘n wen-wen oplossing vir die voortslepende bemarkingskrisis gaan bied. Mnr. John Foster, een van die organiseerders van vandag se vergadering, het gister teenoor Republikein bevestig dat die vergadering ‘n inisiatief is wat los staan van die Namibiese Landbou-unie (NLU) en Lewendehaweprodusenteorganisasie (LPO) se jarelange stryd om ‘n meer regverdige bemarkingsbedeling vir skaapboere te beding.
Hy sê die opstellers van die versoekskrif wat vanoggend aan produsente voorgelê gaan word, is nie lede van die NLU nie “maar mense wat weet wat op voetsoolvlak” onder die produsente aangaan. Hy sê daar is baie jong en ontluikende boere wat weens die ledegeld nie kan bekostig om by georganiseerde landbou in te skakel nie.
Vandag se vergadering, sê hy, sal ’n platform skep vir hierdie produsente om hul saak te stel. Mnr. Ryno van der Merwe, president van die NLU, sê hoewel hy en die bestuur kennis dra van die vergadering, ondersteun hulle dit nie. “Die LPO en die NLU is op die oomblik gewikkel in moontlike deurbraak-onderhandelinge met die vier uitvoerabattoirs wat reeds ver gevorder het.
Dit is deur die abattoirs geïnisieer en hoewel die voorstelle waaroor onderhandel word te sensitief is om nou al die aap uit die mou te laat, hou dit goeie nuus vir produsente in.” Volgens mnr. Van der Merwe het ‘n groepering binne die Abattoirsvereniging van Namibië einde verlede jaar met sekere voorstelle na die NLU gekom wat daarna met die liggaam se lede in die streke bespreek is. “Daarna het die NLU en LPO sekere aanpassings gemaak en dit teruggegee aan die groepering vir oorweging.”
Hy sê die uitvoerabattoirs het die voorstelle intussen almal aanvaar en is net so gretig soos die produsente dat dit sal slaag. “Ons behoort binne die volgende week of twee terugvoer te kry,” sê hy. Sodra dit gebeur, sal produsente volledig ingelig word.
Intussen sê mnr. Foster hy en mnr. Johan van Wyk, wat met die reëlings vir vandag se vergadering behulpsaam was, hoop om met hul versoekskrif genoeg handtekeninge in te samel wat die Regering sal dwing om die grense vir uitvoere na Suid-Afrika oop te stel.
Die kleinveebemarkingskema bepaal dat vir elke een skaap wat die land lewendig verlaat, ses binnelands geslag moet word. Produsente hou reeds byna drie jaar vol dat hulle as gevolg daarvan miljoene Namibiese dollar verloor het.
|