
Mnr. Andimba Toivo Ya Toivo (links) en dr. Nickey Iyambo, Minister van Veiligheid en Sekuriteit, langs hom.
“IS ons op die koers wat ons op 21 Maart 1990 uitgestippel het? Het ons spoed verloor? Is ons nog ewe dapper?” Hierdie was die kernvrae waarmee die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, verlede week ’n debatreeks aan die rol gekry het oor waar die land na bykans twee dekades van onafhanklikheid staan. Na die ys gebreek is, het dit letterlik vrae gereën.
Jan Alleman se swaarkry, die bemagtiging van die jeug, werkskepping, die beweerde traak-mynieagtige houding teenoor Chinese “beleggers,” voortgesette afhanklikheid van beweerde buitelandse kundigheid en die gebrek aan eie nywerhede was maar net van die hoofbestanddele in ’n springlewendige gesprek.
“Is Namibië waarlik ’n nasie aan die beweeg?” wou die Premier weet. Wanneer die land binnekort sy geboortedag herdenk, is daar volgens mnr. Angula ongetwyfeld baie om op trots te wees. Hef aan lê egter steeds voor op talle fronte. Nie net wat maatskaplike en gesondheidskwessies betref nie, maar ook die politiek – wat volgens die Eerste Minister toenemend ’n etniese kleur kry.

Dr. Hage Geingob, Minister van Handel en Nywerheid (regs), en mnr. Elia Kaiyamo was van die bekende gesigte by die eerste van ’n reeks debatte oor Namibië se twee dekades van onafhanklikheid.
“Ongelukkig is vooruitgang en ontwikkeling nie ’n oerknal-gebeurtenis nie,” het hy vir die nodige realisme gevra. Hoë verwagtinge vra nietemin vir groot opbrengste, het mnr. Angula beklemtoon. “Ons moet hoog mik.” Het daar reeds genoeg transformasie- bemagtiging plaasgevind, wou hy weet.
“Ons moet met die kwessies stoei,” het die Premier gesê oor gelyke geleenthede, onderlinge mededeelsaamheid en die verdeling van die ekonomiese koek.
Gereedheid om ten volle deel te word van die wêreldwye inligtingsrevolusie, plaaslike wetenskaplike navorsing, die ontwikkeling van nuwe produkte, markte en tegnologieë wat Namibië se behoeftes pas, asook die aansporing van kreatiewe innovering is vir hom sake waarmee nie genoeg vordering gemaak is nie.
Volgens mnr. Angula het die kultuur om altyd te verwag dat die Regering oplossings vir elke probleem moet vind, die land teruggehou. “Moenie wag vir ander mense om jou probleme op te los nie,” het hy gesê.

Eerste Minister Nahas Angula
Die jeug
Jongmense se noodkreet vir werk en geleenthede het klokhelder opgeklink. Met ’n waarskuwing dat hierdie uitdagings ’n werklike gevaar vir maatskaplike samehang inhou, het die Eerste Minister toegegee dat die krisis een van die groot swakplekke in die Regering se mondering is. Baie jongmense, het mnr. Angula erken, het vandag geen wegspringplek om met ’n gesin en ’n toekoms te begin nie.
“Die jeuguitdaging is ’n nasionale uitdaging,” het hy benadruk. Volgens ’n student in die gehoor het 80 persent van sy vriende wat hul studies voltooi nie eens ’n werk nie. “Moet ons teruggaan na graad 1?” wou hy weet.
’n Bekende vakman het benadruk dat die meeste tegnici wat staatsinstellings oplewer, nie oor markgerigte vaardighede beskik nie. Volgens hom is nuwe leerplanne vir beroepsopleiding nodig om ’n einde te bring aan die “laerskoolmentaliteit” in die inrigtings.
Die Premier het benadruk dat hoewel Namcol as tydelike “polisieman” belangrike werk doen om skoolverlaters ’n tweede kans te bied, die instelling nooit as “permanente oplossing” beskou is nie. Die Namibiese Opleidingsowerheid (NTA) en Nasionale Jeugdiens lewer volgens hom nog nie die voorgenome bydraes nie.
Om nasionale jeugdiens egter verpligtend te maak, of selfs net die duisende te plaas wat aansoek doen, sal volgens die Eerste Minister reusebedrae geld kos wat die staatskas nie het nie. Die jeug se penarie kan volgens mnr. Angula net deur ’n daadwerklike en gesamentlike inspringaksie van die Regering, private sektor, opvoedingsinrigtings en ander rolspelers beredder word. “Anders bou ons ons nasie op dryfsand,” het hy vermaan.
Oor grondhervorming het een jong vrou gesê dat jongmense nie plase wil hê nie, maar bekostigbare eiendom in die land se hoofstad en op dorpe. Die kans om ’n lening te kry, het sy bygevoeg, is egter bitter skraal. Die Premier het die klagte onderskraag met ’n onomwonde taai klap in die rigting van spekulante wat volgens hom huispryse aanhou opjaag.
Volgens mnr. Angula is dit die Ministerie van mnr. Jerry Ekandjo se plig om oplossings vir die probleem te vind. ’n Ander jeugdige het behalwe vir BEE-kwotas ook ’n gereserveerde deel van tenders vir jong sakelui geëis. Mnr. Angula se waarskuwing oor tenderkwotas was dat versigtig gewaak moet word teen die skeeftrek van pryse en die ekonomie omdat “elke voorheen benadeelde pa, ma en hul kinders” kitsrykdom najaag.