25.07.2008 Oorskotte dalk gou uit Duitsland gerepatrieer
DIE skedels en gebeentes van Herero slagoffers van die koloniale menseslagting van 1904 tot 1907 kan moontlik eersdaags na Namibië gerepatrieer word indien sensitiewe diplomatieke onderhandelinge in dié verband slaag. ‘n Openbare uitsaaier in Duitsland het Maandag onthul dat die skedels van gesneuwelde Namibiërs wat in 1904 vir “wetenskaplike navorsing” na Duitsland geneem is, daarop gemik was om die geloof in superioriteit van witmense bo swartmense te bewys.
Sover bekend word 47 skedels steeds in die mediese geskiedenis museum by die Charite opleidingshospitaal in Berlyn gehou en ten minste nog ’n dosyn by die Freiburg Universiteit in die suidweste van Duitsland, berig die openbare uitsaaier, ARD. Volgens die ARD-verslaggewer, Markus Frenzel, kan daar nog meer Herero oorblyfsels in Duitse argiewe lê.
“Dit wil voorkom asof ten minste 300 Herero skedels in die vroeë 20ste eeu na Duitsland geneem is,” het Frenzel aan AFP gesê. Argiviste van universiteite het nie dié fondse aan ARD ontken nie. “Dit is ’n kulturele versameling,” sê mnr. Dieter Speck, direkteur van die Freiburg Universiteit-argief. Die waarnemende hoof van missie van die Namibiese ambassade in Berlyn, mnr. Gerhard Theron, het aan Republikein gesê dit is nog ’n vars storie in Duitsland, en van die ambassade se kant is hulle besig om die saak op te volg.
Namibië se Direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissie en gewese ambassadeur in Berlyn, prof. Peter Katjavivi, het aan ARD gesê Unesco-konvensies bepaal dat geskiedkundige items na hul lande van oorsprong gerepatrieer kan word. “Ons het instansies in Namibië wat bereid is om dié belangrike taak uit te voer.”
Hy sê dié oorskotte is baie belangrik vir Namibië. “Dit is ’n kwessie van die herwinning van ons waardigheid en die herwinning van ons geskiedenis en ook om hierdie skedels huis toe te bring vir ’n behoorlike begrafnis. “Ons is nie emosioneel nie.
Ons stel bloot die feite. Die uitdaging is nou vir beide lande om hierdie saak so kalm as moontlik te benader sodat ons die regte ding op die regte tyd kan doen. Ek hoop die betrokke instansies sal met ons saamwerk. Ek is seker Duitsland sou dieselfde gedoen het as hulle in dieselfde situasie was.”
|