25.02.2010 Oorgrenspark word ’n reus
 Die Minister van die Omgewing en Toerisme, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, en die Duitse ambassadeur, mnr. Egon Kochanke, in die Bwabwata Nasionale Park.
PARKE in die noordooste van Namibië sal die kernpunt in die beplande Kavango-Zambezi Oorgrens Bewaringsgebied (KAZA TFCA) vorm.
KAZA TFCA is bestem om die wêreld se grootste park te word en sal oor 287 132 km² (bykans die grootte van Italië) strek. Dit sal 36 nasionale parke, wildreservate, gemeenskapsbewaringsgebiede en wildbestuurgebiede insluit. Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe het besluit om gesamentlik die gebied te ontwikkel tot voordeel van die hele streek.
Namibië, met sy ondervinding in volhoubare natuurlike hulpbronbestuur, sal ’n groot rol speel in die ontwikkeling en is die koördinerende land van KAZA TFCA.
Trekpleisters soos die Victoriawatervalle in Zimbabwe, wat ’n Wêrelderfenisbestemming en een van die sewe natuurlike wonders van die wêreld is, en die Okavango Delta in Botswana sal via die Caprivi by Namibië se eie natuurlike aantrekkings inskakel.
Volgens die Minister van die Omgewing en Toerisme, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, is die vyf lande daartoe verbind om die KAZA-beleid vanjaar te finaliseer en te onderteken. KAZA, wat ook met N$108 miljoen in
Duitse finansiering oor ’n tydperk van ses jaar ondersteun word, beloof om Suider-Afrika se vernaamste toerismebestemming te word, met die grootste aangrensende bevolking van Afrika-olifante – sowat ’n kwartmiljoen – op die kontinent.
Die noordoostelike parke in Namibië sal die middelpunt van die inisiatief uitmaak, sê die Minister. Die ontwikkeling van die Bwabwata, Mudumu en Mamili (BMM) Parkprojek dra volhoubaarheid by tot die ontwikkeling van die KAZA TFCA waarvan die konsep en metodes wat geskep is as ’n model vir die hele streek sal dien.
“Dit is dus belangrik dat namate die gebied as ’n nuwe bestemming ontwikkel word en beskerming van biodiversiteit verbeter, ons ’n ontwerp vir die toekoms van ons parke sal hê. ’n Ontwerp wat ons parke, hul inwoners en bure, die biodiversiteit, ons personeel, nasionale en internasionale ontwikkelingsdoelwitte in ag sal neem.”
|