22.02.2012 Ooreenkoms vrywaar smelterArseenvergiftiging
 Die smelter op Tsumeb wat nou die fokus van ’n intensiewe internasionale en ministeriële ondersoek is.
’n KLOUSULE wat glo in ’n ooreenkoms tussen die Ministerie van Myne en Energie en Ongopolo onderteken is, bepaal na bewering dat die maatskappy nie verantwoordelik gehou sal word vir enige historiese invloede op die omgewing nie.
Die ooreenkoms wat in 2000 onderteken is, beskerm volgens die huidige eienaars, Namibia Custom Smelters (NCS) ook die maatskappy se omgewingsaanspreeklikheid.
Ten spyte hiervan het NCS se visepresident en hoofbestuurder, mnr. Hans Nolte, beklemtoon dat hulle as die huidige eienaars daartoe verbind bly om omgewingstoestande te verbeter en ook huidige en historiese verpligtinge wat binne die maatskappy se verantwoordelikheid val, na te kom.
Volgens Nolte is NCS se moedermaatskappy, Dundee Precious Metals (DPM), in Namibië om te bly en voel die maatskappy hom daarom verplig om ’n verantwoordelike korporatiewe burger te wees wat aan Namibiese regulasies voldoen.
Nolte het voorts gesê in teorie moet die smelter teen historiese aanspreeklikhede beskerm word. “NCS is egter verbind tot verbeterde toestande en om goeie praktyke toe te pas.”
Hy het erken dat tekortkominge in bestaande wetgewing sowel as menslike hulpbronne in die monitor en administrasie van korrekte praktyke in die Namibiese mynbedryf bestaan.
“Ons meen dat Namibiese owerhede se bevoegdheid met verwysing tot omgewings- en gesondheidsregulering van nywerhede soos die smelter versterk kan word. NCS is gewillig om met die Regering saam te werk om hierdie gebiede te ontwikkel.”
Volgens Nolte volg NCS en DPM in die tussentyd die beste internasionale praktyke wat betref omgewings- en gesondheidsbestuur. Hy het hier verwys na die smelter se nuwe N$3 miljoen monitorstasies vir arseen, stof en swaeldioksied wat ooreenstem met Amerikaanse EPA-standaarde en wat aanstaande maand in en rondom die Tsumeb-smelter opgerig gaan word.
Spesifieke riglyne en benaderings tot NCS se huidige gesondheidsbestuurstelsel word intussen hersien en deur internasionaal erkende spesialiste op die gebied van beroepsgesondheid op datum gebring.
Nolte het met verwysing na die omgewings- en gesondheidsevaluering wat deur die Ministerie van die Omgewing en Toerisme in samewerking met die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsfonds op Tsumeb en omgewing uitgevoer is, die hoop uitgespreek dat die finale uitslae spoedig vrygestel sal word.
“Dit is ’n geweldige taak om ses weke se ingesamelde inligting te vervat in ’n uitgebreide, analitiese en oortuigende verslag.”
Nolte wou nie uitbrei oor die moontlike uitslag nie, maar het gesê die smelter is vol vertroue dat die bevindinge en voorstelle konstruktief sal wees en weerklank sal vind by baie van die omgewingsgesondheidsmaatstawwe en opgraderings wat reeds by die smelter bestaan.
|