
Me. Saara Kuugongelwa-Amadhila
WYSIGINGS aan die wet op oordragkoste is verlede week deur die Minister van Finansies, me. Saara Kuugongelwa- Amadhila, in die Nasionale Vergadering aangekondig. Sy het gesê dat dit daarop gemik is om die lewens van mense en die veiligheidsnet om armoede te verlig, te verbeter. Dit is veral gemik op individue wat eiendomme, in die besonder kommersiële plaasgrond, koop ingevolge die regstellende aksie leningskema van die Regering.
Residensiële eiendomme wat vir minder as N$400 000 gekoop word, sal vrygestel wees van oordragheffings; op eiendomme met ‘n waarde van tussen N$400 000 en N$800 000 sal oordragkoste van een persent betaalbaar wees. Vir eiendomme tussen die koopprys van N$800 000 en N$1.5 miljoen sal oordragkoste van vyf persent gehef word en vir eiendomme wat meer as N$1.5 miljoen kos, sal agt persent oordragkoste gehef word.
Oordragkoste vir die aankoop van plaasgrond wat gekoop word deur mense wat voordeel trek uit die regstellende aksie leningskema sal geen oordragkoste betaal tot op ‘n bedrag van N$500 000 nie. Oordragkoste van een persent sal betaal word vir kommersiële plase met ‘n koopprys van tussen N$500 000 en N$1 miljoen en op kommersiële plaasgrond met die waarde van meer as N$1 miljoen sal drie persent oordragkoste betaalbaar wees.
Oordragkoste op eiendom vir enige iemand anders as ‘n natuurlike persoon sal 12 persent wees. In die kort debat wat gevoer is oor die wysingswetsontwerp het die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, gesê daar is skaars enige grond vir hierdie pryse in Namibië te koop. Hy sê pryse van grond styg voortdurend. Hy meen dit word moedswillig die hoogte ingejaag en dwarsboom die implementering van die regstellende aksie skema.
Hy sê die prys van grond moet sodanig wees dat mense in staat is om hul lenings terug te betaal. Deesdae het die pryse niks te make met die ekonomiese waarde van die grond nie.
Hy het die Minister van Grond en Hervestiging aangemoedig om wysigings aan die wet op kommersiële grond aan te bring om die skuiwergate toe te maak wat die implementering van regstellende aksie in die wiele ry. Die wysigingswetsontwerpe op inkomstebelasting en op belasting op toegevoegde waarde, is deur die komiteestadium gevoer.