19.08.2010 Oop hand vs. gebalde vuis
 Zimbabwe se pres. Robert Mugabe.
DIE nuwe voorsitter van SADC, Namibië se President Hifikepunye Pohamba, se ope uitnodiging aan ontwikkelingsvennote en buitelandse beleggers om hul gewig meer aktief agter Suider-Afrika se ontwikkelingsplanne te gooi, was Dinsdag ’n dramatiese en direkte teenpool van die omstrede Zimbabwiese staatshoof, mnr. Robert Mugabe, se jongste uitjouery van die Weste vir hul selfdienende planne om Afrika beide ekonomies en polities verkneg te hou.
Met vanjaar se Afrika-sokkerbeker in Angola en die Węreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika het die streek volgens Pres. Pohamba ondubbelsinnig bewys watter groot potensiaal SADC het.
“Afrika is oop vir besigheid,” het hy benadruk.
Een van die spitsberaad se besluite oor Zimbabwe was dat mnr. Pohamba as SADC-voorsitter persoonlik saam met presidente Rupiah Banda van Zambië en Jacob Zuma van Suid-Afrika op die hoogste vlak die Weste moet bearbei om alle sanksies teen die buurland af te skaf. Volgens leiers benadeel die strafmaatreëls die hele streek.
Behalwe om mnr. Zuma te loof vir sy werk as bemiddelaar tussen partye in Zimbabwe en vennote in die tussentydse eenheidsregering tot voortgesette toewyding tot die toepassing van alle aspekte van 2008 se verdrag aan te spoor, was daar soos verwag geen ander openbare standpuntinname oor die talle kwessies waarmee die lidland steeds worstel nie.
Op die rand van die beraad is ’n glanspamflet versprei wat sake in Zimbabwe tasbaar rooskleurig voorstel – behalwe vir die Weste se voortgesette ondermyning van die “reus” in wording se ontwakingsproses.
“Eenheidsregering floreer” en “Grondhervorming werp vrugte af”, lui van die opskrifte in die mini-publikasie.
In wat so byna-byna op ’n kaping van SADC se groot gedenkfees uitgeloop het, het mnr. Mugabe onder meer opgemerk dat 30 ’n ouderdom is waarop mense allerhande onredelike vrese ontwikkel.
“Maar dit is ’n gelukkige verjaarsdag,” het hy toegegee met ’n lang opname van SADC-prestasies – waarin feitlik net die totstandkoming van die liggaam se streekhof absoluut geen erkenning gekry het nie.
Volgens mnr. Mugabe is elke tree wat SADC wel vooruit gegee het, suiwer danksy die “eenheid en solidariteit” uit die dae van die streek se vryheidsoorloë. “Daarsonder is SADC niks!” het die Zimbabwiese staatshoof openlik gewaarsku.
Hy het ook die gevaar benadruk dat buurlande dalk in dieselfde bootjie as Zimbabwe kan beland. “Pohamba, ons wil jou nie hę nie,” mag iemand dalk binnekort volgens mnr. Mugabe eis. “Regime-verandering! Dit is waarteen Zimbabwe veg.”
Dr. Tomaz Salomăo, SADC se uitvoerende sekretaris, het na afloop van die spitsberaad benadruk dat vennote in die Zimbabwiese eenheidsregering elkeen die kans gehad het om staatshoofde toe te spreek.
Volgens hom bly van die aanvanklike 27 strydpunte tussen die partye nog net drie oor, naamlik die aanstellings van die goewerneur van die Zimbabwiese reserwebank, prokureur-generaal en mnr. Roy Bennett as adjunkminister van landbou.
Dr. Salomăo het gesę vennote in die Zimbabwiese regering het hul eie “matriks” vir die afhandeling van alle uitstaande kwessies.
Die implisiete boodskap was dat dit nie SADC se werk is om sperdatums vir onvoltooide prosesse voor te skryf nie.
|