
Mnr. Jerry Ekandjo
ONGEAG wat opposisiepartye besluit, sal die nuwe Nasionale Vergadering (NV) stiptelik om 09:00 Vrydagoggend ingesweer word.
Feesverhoë wat Sondag met die 20ste herdenking van Namibië se onafhanklikheid onder die gewig van ’n uitgelese string wêreldgaste sal kreun, is gister deur die hoofsegsman van Swapo, mnr. Jerry Ekandjo, skoongevee met ’n hernude aandrang dat daar absoluut geen knoeiery was in verlede jaar se verkiesings nie en dat nege opposisiepartye se hofgeding in die verband nie net ongegrond is nie, maar gedoem is tot mislukking.
Omdat die Hoofregter self die nuwe NV volgens die duidelike voorskrifte van die Grondwet sal insweer – maak nie saak of lede van die opposisie die plegtigheid boikot nie – is daar volgens mnr. Ekandjo geen kwessie van minagting vir die regbank oor ’n saak waarin die land se hoogste hof nog nie uitsluitsel gegee het nie.
“Dit is nie Swapo wat die parlement insweer nie,” het hy benadruk. Mnr. Ekandjo het herhaal dat niemand die hof gevra het om die inswering te stuit nie.
Hy het gesê daar word ook nie verwag dat President Hifikepunye Pohamba sal afwyk van die gebruik om sy nuwe Kabinet reeds Sondag voor te stel en in te sweer nie. Die aankondiging, het hy egter benadruk, is die Staatshoof self se prerogatief.
“Tot nou weet niemand wat is wat nie,” het mnr. Ekandjo oor die Staatshoof se Kabinet vir sy tweede termyn opgemerk.
Met ’n spesifieke verwysing na state wat die land in sy vryheidstryd gesteun het, het mnr. Ekandjo verseker dat Swapo nooit weer sal toelaat dat enigiemand Namibiërs onderdruk nie. Hy het benadruk dat die Regering verbind bly tot die opheffing van alle inwoners.
Agendas van vernietiging, anargie, chaos en regimeverandering – breedweg verbind met die “sogenaamde” kiesgeding – en ’n “venynige aanslag” op Namibiërs se keuse by die stembus in November kan die Regering egter nie duld nie.
Volgens mnr. Ekandjo is die aansoekers in die appèlsaak behalwe vir die salarisse wat op die spel is, knus vasgedruk tussen die duiwel en die diep blou see.
Laat dié parlementslede hulself insweer, moet die kiessaak val, sê mnr. Ekandjo, want dan aanvaar die klaers die verkiesingsuitslag en sal hulle deelneem aan die debat oor die begroting, wat aanstaande week moet begin.
Boikot hulle die inswering en bly vir tien dae weg sonder die Speaker se toestemming, moet daar ’n nuwe nasionale verkiesing vir vakante setels in die NV wees. Mnr. Ekandjo sê al is “demokrasie ’n duur oefening”, is Swapo oorgehaal om indien nodig “môre” reeds al agtien opposisiesetels in so ’n oefening te verower.
“Die bal is nou in hulle hande,” het hy aan die opposisie gesê. “Die trein is aan die beweeg. Jy kan nie jou brood aan albei kante gebotter hê nie.”
“Gaan hulle (die opposisie) dieselfde doen aan die einde van die jaar?” wou hy oor November se plaaslike en streekverkiesings weet.
Mnr. Ekandjo het, dog op ’n tasbaar minder diplomatieke toon, Eerste Minister Nahas Angula se onlangse pleidooi herhaal dat die opposisiepartye liewer hul saak moet laat vaar. Volgens hom moet die Rally for Democracy and Progress (RDP) eerder gelukkig wees dat hulle darem agt setels in die NV het.
Sy raad aan ondersteuners van partye soos Nudo, die DTA, UDF en CoD was: “Kom terug na Swapo. Jul leiers het julle uitverkoop aan die RDP.”
Manne met “duistere verledes”, soos mnre. Hidipo Hamutenya en Jesaya Nyamu, moet nie nou maak of hulle vir die goeie veg nie, het mnr. Ekandjo geëis.
Anders as die sekretaris van die Kabinet, mnr. Frans Kapofi, wat in sy uitnodiging van die publiek na die naweek se feesvieringe benadruk het dat die geskiedkundige herdenking ’n versoeningsgeleentheid is, het mnr. Ekandjo in sy oproep dat Namibiërs en veral lede van Swapo in massas moet opruk, geweier om die politiek en regerende party se kleure uit die fees te haal.
“Politiek is lewe. Politiek regeer die land… en gee rigting aan die lewe van ’n nasie,” het mnr. Ekandjo gesê. Volgens hom sal daar sonder politiek chaos wees.