11.11.2009 Ontman hulle, sê Nujoma
 Die stigterpresident, mnr. Sam Nujoma, en vrou Kovamba, by Swapo se openbare vergadering Sondag in Zoo-park in Windhoek.
MISDADIGERS wat in daglig vroue van hul handsakke beroof, moet gekastreer word aangesien hulle geen nut op aarde dien nie. Die vroue is nie meer veilig in die land nie, het ’n briesende stigterpresident, mnr. Sam Nujoma, by Swapo se openbare vergadering vir die stemdistrikte Windhoek-Wes en Windhoek-Noord Sondag in Zoo-park in Windhoek gesê.
Hy het verder sy teleurstelling uitgespreek met die feit dat ’n misdadiger nadat hy aangekeer is, uit aanhouding ontsnap en selfs op die polisie wat hom agtervolg, geskiet het. Hy het gesê dat dit nie verdra moet word nie. Mnr. Nujoma het die gemeenskap aangemoedig om vreemdelinge in hul gebiede by die polisie aan te meld aangesien hulle onwettige handel met dwelms kom dryf en ander misdade pleeg.
Hy het hulle ook aangeraai om vreemdelinge by Swapo-leiers aan te meld, wat op hul beurt die polisie in kennis gaan stel. Volgens hom voel mense nie meer veilig nie en dit kan nie langer verduur word nie.
|