26.10.2009 Onthutste Nanso besin oor sy stemkruisie
 Van links is die drie Nanso-beamptes, me. Kashiwana Neshila (sekretaris van geslagsaangeleenthede), mnr. Lauren /Awaseb (sekretaris-generaal) en mnr. Nicky Mutenda (adjunk sekretaris-generaal).
EEN van Swapo se invloedrykste frontorganisasies en bondgenote in sy bevrydingstryd, Nanso, eis nou die koppe van politieke en administratiewe leiers in die Regering wat by die Chinese beursskandaal betrokke is.
In ’n politieke waarskuwingskoot oor die invloed van sogenaamde vrygeborenes wat die eerste keer in ’n onafhanklike Namibië gaan stem, het Nanso (die Namibiese Nasionale Studenteorganisasie) onder meer die jeug gemaan om seker te maak hulle stem reg om skandale te verhoed soos dat buitelandse studiebeurse aan familie van leiers en party-hooggeplaastes toegeken word.
Nanso eis die afdanking van amptenare aan die stuur van Namibië Studente Finansiële Hulpfonds (NSFAF) wat onder die Ministerie van Onderwys ressorteer, oor die toekenning van beurse aan familielede van mense aan die spits in die staatsdiens.
Nanso het deur middel van sy sekretaris-generaal, mnr. Lauren /Awaseb, ’n beroep op alle jeugorganisasies en selfs die werksmag gedoen om Nanso te ondersteun in hul standpunt en optrede rakende die onregverdige toekenning van studiebeurse aan mense wat dit kan bekostig.
Mnr. /Awaseb het ’n blik wurms oopgemaak toe hy verwys het na haglike toestande waarin vele Namibiese studente hulle in verskeie lande bevind, terwyl die kinders en familie uit vooraanstaande staatsamptenare in weelde buite Namibië studeer. V
olgens hom ontvang sy organisasie talle klagtes van Namibiese studente wat in die buiteland studeer. Hy sê berigte word ontvang dat Namibiese studente in onveilige toestande en soms sonder kos studeer, in skrille kontras met die omstandighede wat die bevoorregtes geniet.
“Is dit die soort leierskap wat ons het? Watter kriteria word gebruik om beurse toe te ken? Net mense wat dit kan bekostig?
“Die Regering moet hierdie onreg aanspreek. Dit is ook hoekom ons moet kyk en oordeel voor ons in die komende Presidents- en nasionale verkiesings gaan stem.
“Wanneer beurse beskikbaar word, moet dit geadverteer word om die publiek in te lig oor studiegeleenthede sodat almal ’n gelyke kans het om aansoek te doen.”
Mnr. /Awaseb het ook sterk uitgevaar teen die verhouding tussen die Namibiese en Chinese regerings.
“Nanso wil weet hoekom moet daar ’n verskil wees in die toekenning van buitelandse beurse deur China en die res van die wêreld? Daar skuil iets agter die manier hoe die Chinese regering studente keur.”
Mnr. /Awaseb het die samewerkingsooreenkomste tussen Namibië en China in twyfel getrek en gevra watter ooreenkomste dit is wat net die rykes bevoordeel.
“Dit bring nou al die kontrakte en tenders wat China in Namibië kry onder verdenking.
“As dit die grondslag is vir die toekenning van beurse en kontrakte in China, kan Namibiërs dit nie toelaat nie, omdat die publiek eerste bevoordeel moet word voor die uitverkore paar amptenare,” het mnr. /Awaseb gesê.
|