27.08.2009 Onmin oor Swapo se Karas-keuses
 Mnr. Willem Isaak (middel), Swapo-koördineerder vir Karas-streek.
DIE lys kandidate waaruit die Karas-streek twee verteenwoordigers moes kies vir Swapo se verkiesingskollege in September in Windhoek, is deur die Politburo op grond van “gebrek aan kulturele verskeidenheid” afgekeur.
Net me. Maxi Meliza Minnaar van Keetmanshoop, uitvoerende komiteelid van Swapo in die streek, was op 19 Augustus goedgekeur, terwyl die ander vier, me. Hilma Nikanor (Keetmanshoop), mnre. Paulus Ephraim (Karasburg, Silas Antonios (Lüderitz) en Silas Shipuula (Oranjemund) nie die maatstaf van “kulturele verskeidenheid” slaag nie.
Die uitvoerende komitees van Swapo in die streke het die mandaat om mense te identifiseer na die party se kieskollege.
Swapo se uitvoerende komitee vir die Karas-streek het weer die afgelope Vrydag vergader en me. Lourencia Stephanus van Vaalgras, me. Benigna Gertze van Karasburg, mnr. Antonios en Dawid Cassius “Khoerob” Gertze van Windhoek geïdentifiseer. Die Politburo het Saterdag dié name goedgekeur.
Net twee, mnr. Antonios van Lüderitz en me. Minnaar van Keetmanshoop, is gekies om die Karasstreek van 4 tot 6 September by die kieskollege in Windhoek te verteenwoordig waar Swapo se kandidatelys vir die nasionale verkiesing saamgestel sal word.
Die tweede verkiesing was egter ewe omstrede nadat aan die lig gekom het dat een kandidaat uit die vyf na bewering nie op enige Swapostruktuur dien nie.
Dit word beweer dat mnr. Khoerob, boesemvriend van die Karas-goewerneur, mnr. Dawid Boois, nie op die lys moes wees nie aangesien hy net ’n gewone partylid is. Mnr. Khoerob was ook nie by die verkiesing teenwoordig nie en sekere mense het hom glo in sy afwesigheid as kandidaat voorgestoot.
Die omstrede nominasie het glo van die Berseba-distrikkoördineerder gekom, wat glo beweer het Khoerob dien in die Swapo-strukture van Berseba-distrik. Die twee mans is broers, word beweer.
Dit word egter betwis dat Khoerob in Swapo-strukture van die Berseba- distrik dien. Gevolglik word ’n beswaarskrif saamgestel vir aandag van Swapo se sekretaris-generaal waarin die integriteit van die koördineerders vir Karas en Berseba bevraagteken word.
’n Mosie van wantroue word in die Karas-koördineerder, mnr. Willem Isaak, ingedien vir beweerde dubbele standaarde in die nominasieproses. Hy het glo die nominasie van sekere kandidate afgekeur op grond dat hulle nie uitvoerende lede is nie, maar toegelaat dat Khoerob benoem is wat net ’n gewone lid is.
Die hele verkiesingsproses in Karas was glo nie oop nie. Daar was nie geskrewe uitnodiging gestuur aan die afvaardiging om die streekkonferensie en verkiesing by te woon nie.
Net die Swapo-takke op Berseba en Tses is glo in geheimhouding telefonies na die vergadering genooi, terwyl Swapo-verteenwoordigers op Vaalgras, Gainaxas, Bethanie en Kutenhoas in die Berseba-kiesafdeling uitgesluit is.
Mnr. Isaak word beskuldig dat hy dieselfde speletjie van uitsluiting van kiesers speel en persoonlike voorkeure toelaat om die proses van demokratiese verteenwoordiging te verydel. Gevolglik word hy nie ideaal gevind vir insluitende demokrasie nie.
|