22.06.2009 Ongeluk by ongeluk eis vyf menselewens
‘n MEDIESE dokter van die Demokratiese Republiek van Kongo wat Donderdagaand in ‘n kop-teen-kop-botsing beseer is, het in ‘n ironiese sameloop van omstandighede vemoedelik sy lewe verloor as gevolg van ‘n tweede ongeluk wat kort daarna op die toneel plaasgevind het.
Die kop-teen-kop-botsing het plaasgevind toe ‘n langafstandtaxi en sy manlike passasier wat op pad na Otjiwarongo was, ‘n sedanvoertuig verbygesteek het en met die voertuig van die dokter gebots het.
Die taxibestuurder en sy passasier het in die botsing gesterf. Die bestuurder van die sedanvoertuig het ‘n vrou en haar baba as passasiers gehad en hy het by die ongelukstoneel stilgehou om hulp te verleen.
Die man het die beseerde dokter uit die voertuig gehaal en hom op die grond langs die voertuig laat lê. Die vrou het met haar baba op daardie tydstip uit die voertuig geklim. ‘n Afleweringswa wat vanuit Otjiwarongo na Outjo onderweg was, het daar verbygery en die vrou met haar baba noodlottig getref.
Die man wat hulp aan die dokter verleen het, kon betyds uit die pad van die afleweringswa spring. Die afleweringswa wat blykbaar aan Lambert Transport op Outjo behoort, het ook die dokter se voertuig vir sowat 50 meter vanaf die ongelukstoneel meegesleur.
Die dokter wat in die ongeluk gesterf het, is aan die Namibiese regering gesekondeer en het op Outjo diens gedoen. Hy was vanaf Windhoek op pad na Outjo toe die ongeluk omstreeks 19:00 plaasgevind het.
Die vyf oorledenes, met uitsondering van die dokter, was inwoners van Outjo.
|