
Eerwaarde Willem Konjore
DIE skeepswrak wat in April 2008 naby Oranjemund ontdek is, het nou ’n kleed van beskerming gekry ná die Nasionale Vergadering die Unesco-konvensie op die beskerming van die onderwater kulturele erfenis verlede week bekragtig het.
In sy motivering het die Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, eerwaarde Willem Konjore, gesê ná die ontdekking van die wrak, is Namibië deur die internasionale gemeenskap aangeraai om die konvensie so spoedig moontlik te bekragtig.
Hy het gesê dat die konvensie strook met die bepalings van artikel 19 van die Grondwet en ook met die bepalings van artikel 57 van die Wet op die Nasionale Erfenisraad. Die wet maak onder meer voorsiening vir die beskerming en bewaring van die oorblyfsels van alle skeepswrakke wat vir 35 jaar of meer langs die kus of in die land se gebiedswaters lê.
“Die skeepswrak en die verwante geskiedkundige materiaal op Oranjemund het vir meer as 500 jaar langs ons kus gelê. “Om die rede is ek van mening dat die bekragtiging van die konvensie deur Namibië, pogings sal versterk om Namibië se onderwater kulturele erfenis verder te beskerm, in stand te hou, te bewaar en te bevorder.
“Sodoende sal Namibië ook in staat wees om die nodige, vereiste, tegniese en finansiële bystand van die internasionale samelewing met belange in ons onderwater argeologiese erfenis, soos die Oranjemund skeepswrak, te ontvang,” het eerwaarde Konjore gesê.