
Deel van die skare wat Saterdag na CoD-leiers kom luister het.
DIE leier van die amptelike opposisie (CoD), mnr. Ben Ulenga, het die hoof van die polisie, luitenant-generaal Sebastian Ndeitunga, versoek om dadelik ondersoek in te stel na die “ernstige beweringe” dat die regerende party, Swapo, verkiesingsbedrog gepleeg het.
“Ons het ook verkiesingbedrog vermoed, maar was nie seker nie,” het mnr. Ulenga gesê en die leier van die RDP, mnr. Hidipo Hamutenya, vir sy onlangse onthulling bedank.
“Daar is egter nog een ding wat gedoen moet word en dit is om geregtigheid te laat geskied. Almal wat verantwoordelik was vir die verkiesingsbedrog moet in hegtenis geneem en verhoor word. Dit is geregtigheid,” het mnr. Ulenga gesê.

CoD se visepresident, mnr. Alfred Chilinda, spreek die vergadering toe. Sittend is van links me. Inocentia Mokomele, mnr. Ben Ulenga, me. Gretchen Boois, en mnr. Natji Tjirera.
Hy het Saterdag sy party se massavergadering op Oshakati toegespreek en ook onthul dat hy besig is om ‘n ope brief aan President Pohamba op te stel, waarin hy ‘n geregtelike ondersoek na die betrekkinge tussen die Namibiese regering en die Chinese regering eis.
Hy het verwys na die studiebeurse wat die Chinese regering onlangs aan familielede van senior ministers en selfs ‘n dogter van die Staatspresident toegestaan het.
“Niemand het vir daardie studiebeurse aansoek gedoen nie. Dit is maar net op ‘n skinkbord aangebied. Dit is geld wat die Chineseregering opsetlik opsy gesit het met die doel om regeringsleiers om te koop. Almal weet mos dat ook in China nie so iets soos ’n ‘free lunch’ is nie,” het mnr. Ulenga gesê.
Die voormalige diplomaat het gesê in ander lande sou ‘n minister wat byvoorbeeld deur ‘n sakeman vir middagete genooi is, die rede daar voor moe t verduidelik.
“Die Chinese studiebeurse is nie verniet nie. Die Chinese is besig om regeringsleiers om te koop en ‘n werklike gevaar van Chinese kolonialisme bestaan. Die korrupte betrekking tussen Namibië en Chinese moet dadelik ondersoek word,” het hy gesê.
Hy het belowe om mnr. Paulus Noa van die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) te nader om ‘n deeglike ondersoek aan te vra.
“Daar is nie ‘n verskil tussen luitenant-generaal Martin Shalli wat na bewering geld van China ontvang het, en ministers – en selfs die President – wie se familielede gratis studiebeurse van China ontvang het nie. Generaal Shalli is weens beweerde Chinese geld deur die President geskors, nou is die President self by Chinese geld betrokke. Wat is die verskil?”