
Hoofregter Peter Shivute
SEDERT onafhanklikwording het die Namibiese regstelsel met rasse skrede vooruitgegaan en heelwat is in die afgelope 20 jaar vermag.
Die kersie op die koek is die onbetwiste onafhanklikheid van die regbank wat ’n voorbeeld nie net vir die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap nie, maar ook vir die res van Afrika is. In ’n openhartige onderhoud het Hoofregter Peter Shivute die hoogtepunte asook die uitdagings wat ondervind word, uitgelig.
Wat landdroshowe betref, vertel hy dat die situasie vandag aansienlik anders as in 1990 uitsien. Destyds was daar min landdroste en aanklaers en die demografie van die land was swak gereflekteer.
“Daardie tyd was landdroste nog deel van die staatsdiens, wat die vraag laat ontstaan het oor die onafhanklikheid van die landdroshowe. Landdroste het onder die beheer van die Ministerie van Justisie geval wat hul diensvoorwaardes en selfs enige verplasings behartig het,” het Hoofregter Shivute vertel.
Een toetssaak het egter die saak op die spits gedryf. Een landdros het die Minister se mag om hom te verplaas, uitgedaag en die saak is na die hof geneem. Dit was inderdaad ’n waterskeidingsaak wat meegebring het dat die Parlement die Wet op Landdroste aanvaar het waarvolgens landdroste nie langer staatsamptenare sou wees en onder die beheer van die Minister sou val nie, maar onder die Kommissie van Landdroste, onder voorsitterskap van ’n regter van die Hoërhof.
Vandag word landdroste steeds deur die Minister van Justisie aangestel, maar nou geskied dit op aanbeveling van die Kommissie van Landdroste. Die hooflanddros staan aan die hoof van die magistratuur. Hoofregter Shivute wys daarop dat die magistratuur steeds groot uitdagings in die gesig staar.
’n Tekort aan landdroste het meegebring dat hulle in Zimbabwe gewerf is om in Namibië te kom werk en bystand te verleen.
Dit het ’n positiewe bydrae ter versterking van die laerhowe gelewer en stappe is deur die Namibiese regering gedoen om Namibiërs wat in die regte gegradueer het, vir opleiding as landdroste te werf. Na die geslaagde voltooiing van hul opleiding, word Zimbabwiese landdroste algaande met plaaslike Namibiërs vervang.
Hoofregter Shivute is vol lof vir die groot bydrae wat die Zimbabwiese landdroste gespeel het om stabiliteit in die laerhowe te bring en Namibiërs die geleentheid te bied om opgelei te word en ondervinding in die laerhof op te doen. Ook wat die Hoërhof betref, is goeie vordering sedert onafhanklikwording gemaak. Ten tyde van onafhanklikwording het Namibië net drie permanente regters gehad. Vandag spog die land met tien permanente regters van wie drie Namibiese vroue is.
Tog wys Regter Shivute daarop dat die poel waaruit regters in Namibië geïdentifiseer kan word, klein is en om dié rede steun Namibië steeds swaar op buitelandse regters om op die regbank te dien. Die voordele hieraan verbonde is dat regspleging in Namibië ’n betekenisvolle inspuiting gekry het en dat dié regters ook ’n aansienlike bydrae gelewer het tot die ontwikkeling van die plaaslike reg.
Namibië kon ook voordeel trek uit die beste regskenners in die streek. Hoofregter Shivute wys daarop dat die werk van die Hoërhof sedert onafhanklikwording aansienlik toegeneem het en dat die aantal regters steeds nie voldoende is om die toenemende werklading te behartig nie. Versoeke is reeds aan die Regering gerig om oorweging te skenk aan die skep van meer poste vir regters sodat die toedrag van sake reggestel kan word.
Gelukkig is die Regering simpatiek teenoor die omstandighede en dit besef dat meer regters nodig is om te verseker dat sake nie herhaaldelik uitgestel word nie. Namibiërs het ook rede om trots te wees op die Hooggeregshof. Ten tyde van onafhanklikwording het die land wel oor ’n Hooggeregshof beskik, maar dié hof was in die gebou van die Hoërhof gehuisves. Geen gebou was uitsluitlik tot die beskikking van die hof nie.
Sedertdien is ’n Hooggeregshof in Windhoek se sentrale middestad gebou wat justisie as een van die pilare waarop die Namibiese staatsbestel en demokrasie gegrond is, simboliseer. Strukturele probleme aan die gebou word ondersoek en geld is beskikbaar gestel om die nodige opknappingswerk te doen. In 1990 het die Hooggeregshof sy werk met drie Regters, te wete Regterpresident Hans Berker van Namibië, Regter Ismael Mahomed van Suid-Afrika en Regter Dubetsheana van Zimbabwe begin.
’n Kritiese tekort aan regters het die gebruik van buitelandse regters genoodsaak. Regters van die Hoërhof kon nie bloot tot die Hooggeregshof bevorder word nie omdat dit weer tot ’n tekort in die Hoërhof sou lei. Hoofregter Shivute het daarop gewys dat Namibië steeds van regters van buite die land se grense gebruik maak om op ’n deeltydse grondslag op die regbank te dien.
Hy is ook tevrede dat sowel die Hoërhof as die Hooggeregshof doeltreffende werk verrig. Oor die jare het die aanstelling van ’n Ombudsman, Aanklaer-generaal en regters op aanbeveling van die Regsdienskommissie ook ’n sigbare verandering op die regbank teweeggebring wat vandag inklusief en verteenwoordigend van die bevolking is.
Hoofregter Shivute het die mans en vroue op die Namibiese regbank wat dag en nag werk om te verseker dat die Grondwet beskerm word, verbind is tot die regstaat en streng onpartydig optree, lof toegeswaai.
“Al ons regters kom hul verbintenis tot hul ampsede na,” het Hoofregter Shivute gesê.