22.02.2010 Onafhanklike kandidaat vra eenheid, samewerking
 Ben Katamila
Kandidaat:
Ben Katamila
Geboortedatum:
24 Februarie 1972
Geboorteplek:
Tses. Inwoner van Okahandja sedert 1976
Beroep:
MIV-konsultant
Politici in familie:
Ben se pa, mnr. Anton Katamila, was ’n bekende lid van Swapo se sentrale komitee en het in 1989 saam met ander uit ballingskap na die land teruggekeer. Pa Anton was op ’n tyd die administratiewe hoof van die party en ’n Swapo-tak op Tses is na hom vernoem.
Van sy ma se kant is Ben verwant aan die bekende Appollusse, waaronder Emil, ’n stigterslid van Ovambo People’s Organisation (OPO) wat later na Swapo herdoop is.
Prioriteite vir die streek:
Mnr. Katamila glo streekontwikkeling sal wêrelde verbeter as beter samewerking tussen verskillende ministeries en op die streekraad bestaan.
Elkeen doen sy eie ding,” sê hy. Dit geld volgens mnr. Katamila ook vir Okahandja. “Sinergie,” benadruk hy, is noodsaaklik op elke front.
“Plaaseienaars probeer hul kant bring, maar niemand ondersteun hulle nie,” sê mnr. Katamila.
In die Otjozondjupa-streek is infrastruktuurontwikkeling volgens mnr. Katamila ’n saak wat dringend aandag benodig.
Planne vir Okahandja:
“Die eerste item op my agenda is om goeie samewerking tussen dorpsraadlede aan te moedig. Met groter kohesie tussen streek- en dorpsraad kan ons meer vermag.”
Okahandja het volgens mnr. Katamila ’n jarelange geskiedenis van interne, politieke dwarstrekkery – iets wat na sy mening ’n kernoorsaak van agteruitgang op die dorp is. “Dit is elkeen vir homself,” sê hy. “Die houding moet ’n einde kry.”
Die misbruik van staatsgeriewe en -geld ten bate van politieke take van die regerende party is volgens hom heeltemal onvanpas. Werkloosheid is boaan mnr. Katamila se doenlys.
“Ontwikkeling moet Jan en alleman baat en inwoners help om eerder positief betrokke te raak.” Die ontwikkeling van SME’s is volgens mnr. Katamila ’n goeie resep om lewenstandaarde te begin verbeter.
“Ons moet mense help om haarsalonne en karwasserye te begin, eerder as om sjebeens oop te maak,” vertel hy. “Dit sleep ons net terug.”
Gevestigde bedrywe op en rondom die Tuindorp, byvoorbeeld pluimveeboerdery, kan volgens mnr. Katamila aansienlik ontwikkel word.
|