3.07.2009 Omstrede wet moet glo ook media in toom hou
SODRA die Kommunikasiewet van krag word, sal dit ’n bruikbare stuk gereedskap wees om beleid rakende die elektroniese en gedrukte media te beheer.
Dit is die mening van die Swapo-parlementslid, mnr. Chief Ankama, tydens die voortsetting van die debat in die Nasionale Vergadering oor die voorgestelde Kommunikasiewet.
Hy is van mening dat die wet sal help met die toepassing van etiek en professionalisme deur mediahuise, entiteite en eindgebruikers.
“Sodra hierdie konsepwetsontwerp ’n volwaardige wet word, sal dit help om ’n klomp van die onsin waaraan Namibiërs onderworpe was as gevolg van ’n ongesensorde vloei van inligting, soos kinderpornografie en stukke ongeskikte skryfwerk, reg te stel,” het mnr. Ankama gesê.
Hy sê diegene wat bang is dat hulle afgeluister gaan word, moet self na vore kom en die onpatriotiese dade wat hul doen of beplan, bekend maak. Mnr. Ankama het aan die Huis gesê die konsepwetsontwerp is ’n belangrike stuk wetgewing wat Namibië in die res van die wêreld sal bevorder ten opsigte van mededingende tegnologie en ekonomiese ontwikkeling.
“Ons moet hierdie Kommunikasiewet sien as ’n wyse om die ontwikkeling van inligting- en kommunikasietegnologie te bevorder,” het mnr. Ankama gesê.
Gedurende die spreekbeurt van die Adjunkminister van Verdediging, mnr. Victor Simunja, het hy klem gelê op sekuriteit en hoe die konsepwetsontwerp binne die begrip pas.
“Die mikpunt met hierdie wet is die konsolidasie van demokrasie, die behoud van maatskaplike regverdigheid, ekonomiese ontwikkeling, ’n veilige omgewing en bekamping van misdaad, geweld en politieke onstabiliteit,” het die Adjunkminister gesê.
Hy het aan die Huis gesê sekuriteit is ’n omvattende toestand waarbinne individuele burgers in vryheid, vrede en veiligheid leef en kan deelneem aan die regeringsproses en hul beskermde basiese menseregte kan geniet.
In sy bydrae tot die debat het die Adjunkminister van Justisie, mnr. Utoni Nujoma, gesê die stuk wetgewing hou groot potensiaal in vir die burgers van die land en dat dit die land kan beskerm teen onder meer ongewenste gevalle waar Namibië se sekuriteit en veiligheid bedreig kan word.
Me. Unice Iipinge, Swapo-parlementslid, het haar ondersteuning vir die oprigting van sentrums vir tussenbeidetreding gegee en gesê dit kan grootliks bydra tot die volhoubare veiligheid in die land.
Die debat is tot later uitgestel.
|