12.11.2008

Omkoopgeld het twee in sop

TWEE werknemers van ‘n bekende ingenieursmaatskappy van Walvisbaai het met die aanvang van die naweek in die vangnet van die Teenkorrupsie Kommissie beland en hulle het reeds in die hof op die hawedorp verksyn.

Mnr. Willem Louw en sy kollega, mnr. Jason Hango, het in die visiere van die Teenkorrupsie Kommissie beland ná hulle blykbaar geld onder valse voorwendsels van mense geneem het wat by Elgin Brown & Hamer vir werk aansoek gedoen het.

Aansoekers is die versekering gegee dat indien hulle ‘n deposito betaal, die prosessering van hul aansoeke versnel sal word en hulle is verseker van werk. Die bedrag wat elke aansoeker moes betaal, is nie bekend gemaak nie. Volgens die adjunkdirekteur van die Teenkorrupsie Kommissie, advokaat Erna van der Merwe, het mnr. Louw in die opsig glo omkoopgeld van N$4 500 ontvang en mnr. Hango het ook glo N$15 000 in sy sak gesteek.

Mnr. Hango was net tydelik by die maatskappy aangestel. “Die beskuldigdes het artikel 33 van die Teenkorrupsiewet van 2003 oortree en is Vrydag in hegtenis geneem.” Die beskuldigdes het Maandag hul eerste verskyning in die hof gemaak.

Mnr. Louw is op borgtog van N$1 000 vrygelaat. Sy medebeskuldigde moes N$2 000 opdok om sy relatiewe vryheid te verseker. Die saak is volgens die die klerk van die hof op Walvisbaai vir verdere ondersoek tot 14 Januarie aanstaande jaar uitgestel.