24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

25.02.2010

Okahandja-kiesers traag om te stem

© Republikein
Mnr. Edward Hauanga
ONDANKS die vurige aanloop tot gister se tussenverkiesing in die Okahandja-kiesafdeling, het bywoning teen saktyd gedui op ‘n dalk teleurstellende stempersentasie. Of die Verkiesingskommissie (ECN) die belangrike toets geslaag het om sy eer te herstel voor die kiesgeding wat Maandag in die Hoërhof begin, was onduidelik.

Moontlike ongerymdhede is deur die hoofverkiesingsbeampte, mnr. Edward Hauanga, as “onbevestigde spekulasie” en “administratiewe kwessies” bestempel. Hy het egter benadruk dat hy nie sou huiwer om op te tree indien dit later gisteraand nodig sou word nie.

“Alles gaan volgens plan,” was sy ferm diagnose. Op mnr. Boetietjie Hauseb se afdanking as verkiesingsbeampte van mobiele span 310, kon mnr. Hauanga nie teen saktyd lig werp nie. Mnr. Hauseb was op die onafhanklike kandidaat, mnr. Ben Katamila, se nominasielys.

“Ek is baie deurmekaar,” is al wat mnr. Hauseb wou sê, behalwe dat hy op Ozombanda van sy pligte onthef is. Volgens mnr. Hauanga is hy ‘n te “klein vissie” om iets oor die saak te sê.

‘n Skrale twee ure voor stembusse om 21:00 sou sluit, het beide dr. Elijah Ngurare, sekretaris van Swapo se Jeugliga, en me. Christophine “Kito” Paulus, kandidaat van die RDP, steeds gehoop dat laataand-kiesers nog in groot getalle sou opdaag.

Dr. Ngurare het staat gemaak op ‘n goeie opkoms in Oshetu en die Laerskool Aurora, beide in Nau-Aib, asook die Vyfrandkamp. Swanu se mnr. Ehrenfried Muroua het die swak opkoms toegeskryf aan apatie en redeneer dat inwoners weens die twyfel wat oor kandidate se verlede gesaai is, nie geloof in die voorgestelde leiers het nie.

By die Shipena Kindergarten in Oshetu het kort voor 17:00 reeds sowat 800 kiesers aangedoen, by die dorpsaal meer as 600 en by die Laerskool Veddersdal ‘n raps meer as 300 mense. Party-agente het soos een man by die dorpsaal beweringe weerlê dat twee mense glo hier twee keer probeer stem en toe weggehardloop het.

Een persoon is volgens die agente weggewys omdat sy hande onder die lig vol vlekke was, terwyl ‘n skoonmaker met almal se goedkeuring wel toegelaat is om te stem nadat chemikalieë net op haar vingerpunte gewys het, maar nie haar duim nie. Die vrou het gesë sy werk elke dag met skoonmaakmiddels.

Oor hoe maklik die ink van vingers gekrap kan word, was daar nie soortgelyke klagtes as tydens November se nasionale verkiesings nie.

By verskeie punte het mense met kieskaarte van ander kiesafdelings opgedaag om te stem, onder meer van die nabygeleë Omatako, Windhoek en selfs so ver as Okahao.

Die ywerigheid is toegeskryf aan moontlike gebreke in die ECN se bewusmakingsveldtog, asook onkunde en verwarring omdat mense in November op enige plek kon stem. Al die mense is weggewys, het toesighoudende beamptes verseker.

Mnr. Katamila is gevra om bewyse in te dien vir sy klag dat jeugdiges Swapo-ondersteuners wat die afgelope naweke aan optogte deelgeneem het, glo as verkiesingsbeamptes ingesmokkel is sonder opleiding.

Volgens hom is hy gesnoeker omdat hy nie toegelaat is om foto’s van die mense in stemlokale te neem nie.

Mnr. Paulus Kapia van Swapo het summier ontken dat hy na bewering met ECN-beamptes vergader het by die Instituut vir Opvoedkundige Ontwikkeling (NIED) buite die dorp.

“Ek was nooit by NIED nie. Hulle lieg. Og, hierdie is RDP-mense,” het hy gekla.

Volgens mnr. Hafeni Nghinamwaami van die RDP sou die nag die grootste toets bring: om te verseker dat uitslae wat dadelik buite stempunte opgeplak moes word, nie drasties anders lyk met die aankondiging van die finale uitslag nie.

Dani Booysen op Okahandja