1.03.2010 Okahandja: Die volledige kiesprentjie
 Die wenkandidaat, mnr. Steve “Biko” Booys, saam met Okahandja se burgemeester, me. Helen Shipena, en mnr. Paulus Kapia.
ONDANKS die regerende party se stewige vertoning in verlede week se tussenverkiesingstryd vir die Okahandja-setel op die Otjozondjupa-streekraad, het Swapo 1 645 minder stemme as in November se verkiesing vir lede van die Nasionale Vergadering (NV) op hom verenig.
Net 65,71% van kiesers in die omgewing wat verlede jaar hul kruisies by die “mannetjie” gaan trek het, het dus gehoor gegee aan naweek na naweek se pleidooie deur Swapo se heel grootste kanonne om mnr. Steve “Biko” Booys te ondersteun.
Swapo het ondanks sy kruistog in aanloop tot die Okahandja-stryd met ’n totaal van 3 153 stemme verder teruggesak op die prestasieleer.
In 2009 se NV-verkiesing het die party met 4 798 stemme ook effens swakker gevaar as 2004 se 4 937 stemme. Mnr. Booys het minder stemme op hom verenig as wat die regerende party in 1999 hier vir die NV gekry het (3 719), asook minder as die 1992-streekverkiesing se 3 392 stemme.
In laasgenoemde jaar het meer as 81% van kiesers egter gaan stem teenoor verlede week se 38%. Swapo het nietemin steeds meer stemme gekry as in alle vorige plaaslike en streekverkiesings.
Mnr. Booys het byna 500 meer stemme gewen (476) as wat oorlede mnr. Theofelus Eiseb, wie se heengaan tot die tussenverkiesing aanleiding gegee het, in 2004 kon regkry en 1 302 meer stemme as dieselfde voorganger in 1998 ingepalm het.
Al het die ondersteuning van ses ander opposisiepartye me. Christophine “Kito” Paulus nie naby aan ’n oorwinning gebring nie, het die Rally for Democracy and Progress (RDP) se kandidaat behalwe vir die DTA se poging in 1992 se heel eerste streekverkiesings, met 1 559 stemme meer steun gekry as enige kandidaat wat Swapo daarna in ’n streekverkiesing aangedurf het.
In al die jare sedertdien was die beste wat die opposisie in ’n streekraadverkiesing kon vaar die 747 stemme wat ’n DTA-kandidaat in 1998 gekry het.
Die onafhanklike kandidaat, mnr. Ben Katamila, het in Nau-Aib die beste gevaar. Die 208 stemme wat hy hier gewen het, is kort duskant die helfte van sy totaal.
Al het mnr. Katamila ver derde gekom, was sy totaal baie naby aan die Congress of Democrats (CoD), Nudo en UDF se vertonings in 2004.
• Republikein het Vrydag per abuis berig dat die RDP-kandidaat in Veddersdal ’n meerderheid behaal het. In werklikheid het Swapo hier net-net met sewe stemme gewen. Me. Paulus kon dus net by drie van die 16 busse as oorwinnaar uit die stryd tree.
|