Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

8.02.2010

NWR se nuwe raad ingehuldig

© Nicolette Jacobie
NWR se nuwe raad. Van links staan dr. Kalumbi Shangula, mnr. Pierre du Preez, me. Jacqueline Asheeke, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, mnr. Epsom Jossop en mnr. Festus Nghifenwa. Afwesig op die foto is mnr. Rehabeam Eric en dr. Nashilongo Shivute.

NAMIBIA Wildlife Resorts (NWR) het wel herstel nadat die maatskappy feitlik bankrot was en het sy regrukstrategie met welslae geïmplementeer, maar dit beteken nie dat die bestuur en werknemers op hul louere moet rus nie.

“Maak seker dat jul oorde op internasionale standaard bly, onderhou die infrastruktuur en diens en vergroot jul markaandeel.”

Dit was die kern van die boodskap van die Minister van die Omgewing en Toerisme, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, toe sy die nuwe NWR-raad ingehuldig het. “Aan die hoof van jul raad staan nou ’n kundige vrou.

Me. Jacqueline Asheeke ken Namibië en sy ken die toerismebedryf en ek twyfel nie vir ’n oomblik dat sy suksesvol in haar leiding sal wees nie.”

Die Minister het gesê die uitdagings om NWR tot hoër hoogtes te neem, is legio en selfs moeiliker as dié wat pas oorkom is.

“Een van die uitdagings wat sommer onmiddellik aandag moet kry, is om die oorde in die Etosha Nasionale Park nóg meer aantreklik vir toeriste te maak.

“Rondom Etosha skiet lodges en verblyfplekke op. Toeriste gaan daar tuis en bestee dan net ’n dag in die park voordat hulle teen sononder weer uit die park is. Doen iets om die toeriste eerder in die park te laat oornag. Bied iets anders aan as die lodges buite Etosha,” het me. Nandi-Ndaitwah gesê.

NWR is elf jaar gelede op die been gebring om toerisme-instellings van die Regering onafhanklik te laat werk. Die taak was om die bestaande infrastruktuur te onderhou, te verbeter en doeltreffend te gebruik, personeel op te lei om diens te verbeter, kommersiële gangbare projekte te ontwikkel en die ontwikkeling van omgewingsvolhoubare toerisme aan te wakker.

Ná die instelling van NWR was dit egter die teendeel. Infrastruktuur is verwaarloos en die standaarde het kommerwekkend gedaal tot so ’n mate dat die sluiting van oorde die laaste opsie was.

“Kredietbeperkings is oorskry en rekeninge was oortrokke. Die aandeelhouers moes dringend ingryp,” het die Minister gesê.

In April 2006 is ’n besturende direkteur, dr. Tobie Aupindi, aangestel en Junie daardie jaar het die Kabinet NWR se nuwe sakeplan en ’n regrukstrategie aanvaar. Geld is ook vir die implementering van die planne voorgeskiet.

“Vandag is ek baie tevrede.

“Ek moet erken ek het slapelose nagte oor NWR gehad, veral oor die laaste oudits van die maatskappy, want hoe sou ek aan my kollegas in die Nasionale Vergadering en die Kabinet verduidelik as die ouditverslae negatief is? Maar ek het die jongste verslae gesien en ek is baie tevrede.”

Sy het aan die nuwe raad gesê om skouer aan die wiel te sit en steeds met vernuwing vorendag te kom.

“Die volgende fase is vrot van konsolidasie en groei. En dit bring ongekende nuwe uitdagings.”

Tydens die inhuldiging van die raad het me. Asheeke gesê die Minister en die Regering kan seker wees dat sy haar nuwe rol meer as goed sal vervul.

“Ek ken die bedryf, ek is gaande oor toerisme en die potensiaal wat dit inhou en ek is nou deel van die grootste toerismegroep in Namibië. Ek het nie méér motivering nodig om my bes te lewer nie.”

Me. Asheeke (voorsitter van die Federasie van Toerismeverenigings in Namibië oftewel Fenata) sal bygestaan word deur: mnr. Epsom Jossop (hoof uitvoerende amptenaar van ErongoRed); dr. Kalumbi Shangula (permanente sekretaris van die Omgewing en Toerisme); dr. Nashilongo Shivute (ondersekretaris in die Ministerie van Grond en Hervestiging); mnr. Festus Nghifenwa (adjunkdirekteur in die Ministerie van Finansies); mnr. Pierre du Preez (hoofwetenskaplike in die Ministerie van die Omgewing en Toerisme); mnr. Rehabeam Eric (verteenwoordig NWR-werknemers); en dr. Tobie Aupindi (besturende direkteur van NWR). Die raad sal vir die volgende drie jaar dien.