2.12.2009 Nuwe voertuie onnodig, sê DTA
DIE DTA van Namibië het sy misnoeë uitgespreek met die ongeveer N$15 miljoen se voertuie wat vir die presidensiële stoet aangekoop is en sê die stap is ’n blatante misbruik van belastingbetalers se geld in ’n tyd van resessie.
Volgens inligting is twee Mercedes Benz-voertuie en ses Land Cruisers vir die bedrag aangekoop.
Die president van die DTA, mnr. Katuutire Kaura, het gesê die stap van President Hifikepunye Pohamba ontbloot hom as net nog ’n gulsige politikus wat sy posisie misbruik om homself met luukshede te omring, terwyl daar goeie voertuie in die staatsgarage staan.
Die DTA-leier is van mening dat in hierdie moeilike tye dieselfde bedrag gebruik kon word om ongeveer 500 laekoste huise te bou, of om skoon water en rioolstelsels vir informele nedersettings rondom Windhoek te voorsien, of om anti-retrovirale middels aan 26 000 mense per maand vir ’n hele jaar te voorsien.
Mnr. Kaura het gesê die President was onverantwoordelik om die voertuie te koop, aangesien hy daarvan bewus is dat sy huidige motorkade nog in ’n goeie toestand is. Hy behoort kennis te dra van sake wat van groter belang is waar die geld gebruik kon word.
|