
Na afloop van die verrigtinge het die nuwe lede van die NV op die trappies voor die Parlementsgebou geposeer vir ’n groepfoto.
ALTESAAM 61 lede van Swapo, Swanu, die United Democratic Front (UDF), Nudo, die Congress of Democrats (CoD) en die All People’s Party (APP) asook die ses lede wat deur Pres. Hifikepunye Pohamba benoem is, is Vrydag 19 Maart in die Nasionale Vergadering ingesweer.
Die agt lede van die Rally for Democracy and Progress (RDP), die twee lede van die DTA van Namibië en die een lid van die Republikeinse Party (RP) het nie opgedaag vir die inswering nie.

Mnr. Theo-Ben Gurirab is as die Speaker van die Nasionale Vergadering in die vyfde regering van Namibië ingesweer.
Die DTA en die RP het hulle laat Donderdag by die RDP geskaar en besluit om uit solidariteit die inswering te boikot, hangende die uitslag van die Hooggeregshofsaak waarin nege politieke partye appél aanteken teen die uitspraak van die Hoërhof. Die Hoërhof het vroeër die saak wat die partye teen die Verkiesingskommissie en andere aanhangig gemaak het, uitgegooi op tegniese punte sonder om die meriete van die saak te oorweeg.
Die opposisielede wat wel ingesweer is, het luide applous van die Swapo-lede gekry.
Ná Hoofregter Peter Shivute die lede ingesweer het en hulle die ampseed afgelê het, het die sekretaris van die Nasionale Vergadering, mnr. Jakes Jacobs, gevra vir nominasies vir die posisie van Speaker. Dr. Hage Geingob het mnr. Theo-Ben Gurirab, wat sedert 2005 die Speaker was, genomineer en dit is eenparig aanvaar. Ná die amptelike toga om sy skouers gehang is en hy die Speaker se stoel ingeneem het, het hy gevra vir nominasies vir Adjunkspeaker. Mnr. Marco Hausiku het hierop me. Loide Kasingo vir die pos genomineer.
In sy aanvaardingstoespraak het mnr. Gurirab gesê die handleiding waarvolgens hy werk is die Grondwet van Namibië. “As een van die Grondwetskrywers en onder die langsdienende openbare amptenare en stigters van ons Republiek, weet ek dat die hoogste visie wat die Grondwet vir Namibië stel asook die belofte van nasionale eenheid, versoening, demokrasie, die regstaat, sosio-ekonomiese emansipasie en die verbintenis tot die beskerming van die vrugte van ons lang en bitter stryd om bevryding en onafhanklikheid.
“Ek sal altyd hierby en ook by ander noodsaaklikhede van nasiebou, bly wanneer ek die Huis en die mense wat ons verkies het, dien,” het mnr. Gurirab gesê.
Hy het bygevoeg dat die regerende party weer die mandaat gekry het om te regeer maar dat opposisiepartye geregtig is daarop om gehoor te word en hulle werklike kommer oor sake moet in ag geneem word. Dit is die ideaal van demokrasie en vreedsame naasbestaan. Politieke onverdraagsaamheid is onaanvaarbaar, het mnr. Gurirab bygevoeg.
Hy het die lede daarop gewys dat dit noodsaaklik is om tot die vlak te rys waar hulle selfkritiek kan gee en mislukkings kan erken, sonder om na sondebokke te soek. Deur dit te doen kan hulle groei en beter parlementslede word.
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon.
In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.