2.02.2010 Nuwe komitee moet koshuisspyseniers op hul tone hou
 Die komiteelede van links is mnr. Anton Veii, me. Silke Rügheimer, die voorsitter mnr. Gerhard Enssle, die ondersekretaris vir formele onderwys, me. Claudia Tjikuua, me. Alida Botha, mnre. Sacky Shanghala en Rod April.
DIE nuwe waghondkomitee vir voedsellewering aan koshuise het hom Vrydag, te midde van ’n hofgeding oor politieke inmenging in die tenderproses en onthullings oor die lewering van kangaroevleis aan koshuisleerlinge, ferm daartoe verbind om op etiese en deursigtige wyse na die belange van leerlinge om te sien.
Dit is die evaluering- en moniteringskomitee vir spyseniering se taak om toe te sien dat die sewe spysenieringsmaatskappye vir koshuise hulle hou by die tendervoorwaardes wat deur die Ministerie van Onderwys en die Tenderraad neergelê is.
Die land se 197 koshuise en 45 000 koshuisleerlinge word daagliks ingevolge hierdie tenderooreenkomste teen ’n totale jaarlikse koste van N$220 miljoen van etes voorsien. D
ie Ministerie se ondersekretaris van formele onderwys, me. Claudia Tjikuua, het die komitee daarop gewys dat hy die implementering van kontrakte nougeset moet uitvoer en seker maak die dienslewering voldoen aan die gehaltestandaarde soos in die tendervoorwaardes uitgestippel.
“Jul taak is enorm as in ag geneem word dat koshuise ’n ‘huis weg van die huis’ is waar leerlinge of loseerders goeie kos en behoorlike versorging moet geniet,” het me. Tjikuua gesê.
Sy het daarop gewys dat die Ministerie waarde soek vir die finansiële belegging van R220 miljoen wat hy in belang van koshuisleerlinge maak.
Intussen wou die komitee nie Vrydag die omstredenheid rondom een van die sewe spysenieringsmaatskappye, Atlantic Food Services, met die media bespreek nie.
Pas nadat dié maatskappy verlede week sy kontrak met Capital Meat CC gekanselleer het omdat dit bekend geword het laasgenoemde verskaf vleisprodukte waarin kangaroevleis gebruik word, het die bom gebars oor politieke inmenging in die tenderproses.
Luidens hofstukke waarin Free Namibia Caterers vra vir ’n hersiening van die besluit om ’n koshuistender aan Atlantic Food Services toe te ken, word aangevoer die Swapo-vroueraad, wat 10 persent aandele in dié maatskappy besit, het vooraf insae gehad in die besluite van die Tenderraad.
Volgens mnr. Gerhard Enssle, voorsitter van die evaluering- en moniteringskomitee vir spyseniering, sal die Ministerie van Onderwys en die Tenderraad vandag eedsverklarings in dié verband by die Hoërhof indien. Hy sê dit is nie in hierdie stadium bekend wanneer die aansoek gehoor sal word nie.
Mnr. Enssle het gister by navraag gesê omdat die aangeleentheid sub judice is, het die komitee dit nie Vrydag bespreek nie.
“Ons het wel die kangaroevleis-kwessie bespreek.”
Hy sê omdat Atlantic Food Services dadelik Capital Meat CC se kontrak gekanselleer het, is dié spysenier se kontrak nie in die gedrang nie.
|