
Quinton van der Merwe
EEN van die drie mans wat daarvan aangekla word dat hulle dr. Danie Jordaan van Windhoek buite die dansplek Kiepies wou vermoor, het na bewering enkele ure later wéér sy vuiste rondgeswaai – dié keer om sy vriendin en die ma van sy kind aan te rand.
Republikein het gister op goeie gesag verneem dat ’n klag van aanranding teen mnr. Paul Stephanus van der Merwe (27) gelê is na hy later dieselfde dag sy vriendin by ’n meenthuis in Avis te lyf gegaan het. Dr. Jordaan, ’n bekende dokter en sakeman, is na bewering kort voor sonop Saterdagoggend in die parkeerterrein by Kiepies deur mnr. Van der Merwe, sy jonger broer, Quinton (24), en mnr. Jacques van Coller (27) só erg aan- gerand dat ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer later in die Windhoek landdroshof verander is na een van poging tot moord.

Jacques van Coller
Die ouer mnr. Van der Merwe is die verkoopsbestuurder van Commercial Investment Corporation (CIC) en mnr. Van Coller is die bemarkingsbestuurder van die kommersiële radiostasie, Kosmos. Die jonger mnr. Van der Merwe is werkloos. Mnr. Van der Merwe en sy vriendin het glo Saterdagaand woorde gehad toe sy by die meenthuis opdaag waar hy saam met sy jonger broer woon en ’n ander vrou by hom aantref.
Die stryery het na verneem word op ’n aanranding uitgeloop. Hoewel die aanrandingsklag reeds gelê is, is hy nog nie in hegtenis geneem nie omdat die beheeraanklaer eers ’n beslissing daaroor moet maak. Hoofinsp. Marius Louw wou nie by navraag enige kommentaar lewer nie. Hy het gesê hy is nie by magte om die saak te bespreek nie en dat navrae aan die mag se skakelafdeling gerig moet word.

Paul van der Merwe
Volgens ’n bron naby aan die paar het mnr. Van der Merwe glo op sy beurt ’n klag van aanranding gelê. Hy voer aan sy vriendin het hom te lyf gegaan. Mnr. Paul Herbst, die eienaar van Kiepies, het gister gesê hy distansieer hom van die voorval aangesien dit “nie in Kiepies plaasgevind het nie, maar ’n ent weg in die parkeerterrein”.
Hy het gesê hy werk hard om dié dansen kuierplek ’n goeie naam te gee en die naweek se voorval ry sy pogings in die wiele. “Ek het al die manne wat daarby betrokke was, Jorrie (dr. Jordaan) inkluis, verbied om weer by Kiepies te kom.” Die twee Van der Merwe-broers en mnr. Van Coller moet weer op 9 September in die hof verskyn. Hulle is Dinsdag vrygelaat op borgtog van N$1 500 elk.