19.08.2010 Nuwe doeane-unie op die langebaan
VERDERE gesprekke oor een, nuwe doeane-unie vir SADC sal waarskynlik op die vroegste eers in 2012 plaasvind nadat streekleiers in Windhoek met die werklikheid moes vrede maak dat die plan – wat reeds vanjaar vorm moes kry – onuitvoerbaar is solank selfs ’n vryehandelsgebied (FTA) in die streek steeds nie ’n werklikheid is nie.
’n Nuwe paneel van kenners moet teen Desember 2011 ’n volledige verslag oor die konsep van ’n gesamentlike doeane-unie aan SADC se bestaande taakmag vir die doel voorlê, het staatshoofde beveel.
Die vorming van ’n nog groter vryehandelsgebied deur aansluiting by die Gemeenskapsmark vir Oostelike en Suider-Afrika (Comesa) en die Oos-Afrikaanse handelsblok (EAC) is in die proses onvermydelik ook nog verder teruggeskuif.
Die FTA, doeane-eenheid en SADC se inskakeling by ’n groter handelsblok is sleutelkomponente van die streek se aantonende strategiese ontwikkelingsplan (RISDP). Pres. Pohamba het Dinsdag ruiterlik erken om by die padkaart te hou SADC se heel grootste uitdaging is.
As die streek werklik oplossings vir sy langdurige probleme wil vind, het SADC se nuwe voorsitter egter benadruk, sal ’n massiewe herverbintenis tot beleidsimplementering moet plaasvind.
Dr. Tomaz Salomão, uitvoerende sekretaris van SADC, het ná die Windhoek-spitsberaad benadruk dat die insluiting van Angola, Malawi, die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) en Seychelles by die SADC-FTA ’n voorvereiste is voordat enigsins verder oor ’n doeane-unie vir die streek beraadslaag kan word.
Hy het die totstandkoming van een doeane-poel in Suider-Afrika as ’n baie ingewikkelde proses bestempel waaroor nie uitsluitsel kan kom terwyl nog met ander kwessies gestoei word nie. “Hulle (die taakmag) het 15 maande om ’n nuwe padkaart uit te stippel,” het dr. Salomão gesê.
“Ons moet byvoorbeeld besluit of ons Sacu (die Suider-Afrikaanse doene-unie) as wegspringmodel gaan gebruik,” het hy gesê, “van nuuts gaan begin of dalk idees by Oos-Afrika moet oorneem.”
Indien nodig sal ’n buitengewone spitsberaad volgens dr. Salomão in 2012 belê word om doeane-eenheid en dalk ook die beskerming van die streek teen gebeure soos ’n wêreldresessie te bespreek.
|