NAMIBIË wil wêreldwyd steun werf deur middel van buitelandse missies in die aanloop tot ’n vergadering van die Konvensie oor Handel in Beskermde Spesies (Cites) in Maart waar Kenia medevoorstellers vra dat olifantlande in Afrika nóg strenger beheer op handeldryf in die spesie en ivoor moet toepas.
Kenia en Mali het ’n versoek aan CoP15 (die vyftiende sitting van die Kopenhagen-beraad) ingedien om die huidige moratorium op handel van ivoorprodukte van nege jaar tot 20 jaar te verleng. Sou die versoek aanvaar word, sal dit outomaties beteken dat Namibië se regte om met omakipa vir niekommersiële doeleindes handel te dryf, herroep word.
Tydens die laaste Kabinetsitting het dié liggaam sy gewig ingegooi agter die Regering se versoek om dié wending teen te staan. Namibië skaar hom by die status quo. Ingevolge ’n verklaring van CoP14 wat in 2001 in Den Haag gehou is, mag Namibië, Botswana, Suid-Afrika en Zimbabwe ’n uitvoerkwota vir rou ivoor vestig en gereguleerde kommersiële handel in alle ander olifantprodukte bedryf.
Verder laat die verklaring Namibië, Botswana, Suid-Afrika en Zimbabwe toe om een keer in nege jaar ivoor te verkoop. Aan die einde van 2008 is 7 ton olifanttande en ivoorstukke op ’n internasionale veiling in Windhoek teen N$13 miljoen van die hand gesit. Ingesluit by die CoP14-verklaring, wat uit ’n CoP13-verklaring spruit, was Namibië se reg om met verwerkte ivoor, omakipa of ekipa, handel te dryf.
Die Ministerie van die Omgewing en Toerisme het wel in 2007 die besluit tydelik opgehef om ongereguleerde verkope te verhoed, ’n databasis van registreerde omakipa-verkopers op te bou en regulasies vir verkope in te stel.
Namibië sê in sy voorlegging om Kenia se versoek teen te staan, dat die land deesdae met ’n baie gesonde olifant- en renosterbevolking kan spog. Gevolglik versoek die land dat Kenia se voorgestelde veranderings aan die Cites-resolusie Conf. 9.14 oor die bewaring en bestuur van renosters teengestaan moet word.
“Die Kabinet verleen ook goedkeuring dat Kenia se versoek om die huidige verklaring oor die olifantbevolkings van Botswana, Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe, teengestaan word.”
Volgens ’n verklaring van die Kabinet ondersteun die liggaam Namibië se posisie om Tanzanië en Zambië te ondersteun om hul olifantbevolkings van Cites se sogenaamde Appendix I na Appendix II af te skaal.
Voorts wil die twee lande ook toestemming hê om soos Namibië, Botswana, Zambië en Suid-Afrika eenmalige verkoopgeleenthede vir hul ivoorvoorade te hê.
“Kabinet versoek ook alle Namibiese amptenare by oorsese missies om ingelig te wees oor die stand en ook hul stemme dik te maak hieroor by partye betrokke by Cites,” lui die verklaring.