3.02.2012 Nuus van 03 Februarie tot 09 Februarie 1992
Maandag 03 Februarie
• Nog ’n voorval is die naweek by die huidige vlaag van geweld in die land gevoeg toe ’n 23-jarige man van Tsumeb tweekeer deur ’n petroljoggie in die kop geskiet is nadat hy die joggie glo aangerand het.
• Global Food Services is nie op die randjie van bankrotskap soos beweer word nie, hoewel kontantvloeiprobleme ondervind word, het die voorsitter van Global Namibia, dr. Lourens Erasmus, gesê.
Dinsdag 04 Februarie
• ’n Tweede verdagte is laat gistermiddag in Owambo na verlede week se moord op ’n Portugese sakeman van Windhoek, mnr. Rogeiro de Jesus Pereira, in hegtenis geneem.
• Die grootste uitdaging wat Namibië in die gesig staar, is die lewering van genoeg gekwalifiseerde onderwysers, het mnr. Andrew Matjila, sekretaris van inligting van die DTA gesê. “Werkswinkels, seminare en opknappingskursusse sal nie die lot van duisende onderwysers wat kinders probeer onderrig, verbeter nie.”
Woensdag 05 Februarie
• Windhoek Hoërskool vier vandag sy 75ste bestaansjaar.
• Bees- en skaapvleisprodusente sal waarskynlik derduisende rand aan die Vleisraad moet terugbetaal nadat die Regering glo opdrag gegee het dat die voordeel wat veral kommersiële boere getrek het uit ’n verlaging van die uitvoerheffing op bees- en skaapvleis, nou deur die produsente terugbetaal moet word.
• Die Ministerie van Onderwys en Kultuur kan nie meer aanvaar dat die skuld vir die voortgesette swak prestasies van leerlinge toegeskryf moet word aan buiteskoolse faktore in die land of tekortkominge in die onderwysstelsel van die verlede nie.
Donderdag 06 Februarie
•Gewapende rowers het weer op twee plase toegeslaan. In een geval is ’n 82-jarige boer beroof en geterroriseer, terwyl werkers op ’n ander plaas deur vyf gewapende mans aangehou en in ’n toilet toegesluit is voordat hulle die huis geplunder het.
• Die malaria-epidemie in Kaokoland is besig om ernstige afmetings aan te neem en verskeie sterfgevalle het reeds voorgekom.
Vrydag 07 Februarie
• Die Regering gaan voor die einde van die jaar alle Enok-plase in Owambo en Kavango privatiseer, volgens ’n aankondiging gister deur die Minister van Landbou, mnr. Gert Hanekom.
• Na twee onsuksesvolle probeerslae om ouers by ouervergaderings te kry, het die skoolhoof van Sekondêre Skool Augustineum, mnr. Berra Mungunda, ’n brief aan elk van sy 981 leerlinge gee om huis toe te neem. Hul ouers of voogde moes dit onderteken en na die derde vergadering bring. Indien hulle dit nie sou doen nie, sou hul kinders nie weer by die skool toegelaat word nie. In teenstelling met die vyf en nege ouers wat by die onderskeie eerste twee vergaderings opgedaag het, het 1 500 ouers by die derde vergadering hul opwagting gemaak.
Sondag 09 Februarie
• Bestaan heksery en toordery in Namibië en hoeveel mense probeer hul misdadige optrede daarmee regverdig? Hierdie vrae het Donderdag in die Hoërhof na vore gekom toe Regter Levy hom sterk uitgespreek het teen toordery en heksery waarin sekere mense glo.
• Die skoolhoof het die finale seggenskap oor wat by sy skool gebeur en wie daar toegelaat word, is een van die besluite wat deur hoofde van hoërskole en afgevaardigdes van die Ministerie van Onderwys die week tydens ’n werkwinkel geneem het.
|