
Mnr. Evilastus Kaaronda
’n ONAFHANKLIKE kommissie van ondersoek moet die regbank en dalk selfs die Regsdienskommissie suiwer van ondemokratiese en reaksionêre elemente met verskanste belange, sê die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW).
Die ontstemmende oproep kom op die vooraand van die 20ste verjaardag van die Grondwet en die herdenking van twee dekades van onafhanklikheid.
Net soos Pres. Hifikepunye Pohamba bevraagteken kan word, is die regstelsel volgens mnr. Evilastus Kaaronda, sekretaris-generaal van die NUNW, glad nie bo kritiek verhewe nie.
“Miskien moet hulle ook ondersoek word,” was sy antwoord op die vraag of die soort skoonmaakaksie dan nie die werk van die Regsdienskommissie is nie.
“Regters kan nie regters ondersoek nie, nes prokureurs nie prokureurs kan ondersoek nie,” voer mnr. Kaaronda aan, omdat mense geneig is om mekaar te beskerm.
Die Regsdienskommissie kan volgens hom net self so ’n ondersoek behartig as hulle geloofwaardig genoeg is. Sekere Regters speel met vuur, het mnr. Kaaronda gewaarsku. “’n Veldbrand haal egter gou droë gras in…”
Die speurtog moet volgens Swapo se vakbondfederasie veel wyer slaan as om net die koppe van sekere Regters te laat rol.
Die voorgestelde kommissie van ondersoek moet volgens die NUNW die belange van Regters, hul vroue, kinders, nabye familie en sakevennote fynkam en “sekere spore van vooroordeel” in spesifieke uitsprake uitsnuffel.
“Ek is seker (Regterpresident) Petrus Damaseb sal luister…” het mnr. Kaaronda aangeraai. “Regters moet regverdig en onpartydig wees,” het hy getier.
“Daar moet ’n struktuur wees om Regters tot orde te roep.”
Wetgewing behoort Regters volgens die NUNW te dwing om hul sakebelange te openbaar. Regters moet volgens mnr. Kaaronda net op hul salaris leef.
Volgens hom is die geregtelike gesag die mees ondemokratiese van die drie pilare van Namibië se demokrasie en is dit hoog tyd vir behoorlike transformasie eerder as die “assimilasie” wat in 1990 begin het.
Regters Damaseb en Collins Parker se besluit om gevriesde bates terug te besorg aan die sogenaamde Teko-trio en ander wat na bewering voordeel getrek het uit ’n vermeende miljoendollarbeleggingskandaal met staatsgeld bedoel vir Chinese doeaneskandeerders, was ’n nuwe element in die NUNW se voortgesette aanslag op die regbank.
Soos ’n volbank van die Hooggeregshof se verwerping van die Swapo-regering en parlement se voorgenome verbod op huurarbeid as ongrondwetlik, was hierdie uitspraak volgens mnr. Kaaronda glo net ’n formaliteit.
Hy het sommer ook losweg die Rally for Democracy and Progress (RDP) se naam in die konteks bygesleep.
Volgens die NUNW is sy vertroue in die regbank liederlik geskud. Om stil te bly, is volgens mnr. Kaaronda eenvoudig te veel gevra.
“Die NUNW sal nie toelaat dat die hoogste offers gebring deur die helde en heldinne van ons vryheidstryd tot niks verlaag word deur ’n onsensitiewe, vernederende, misplaaste, reaksionêre Hooggeregshofuitspraak nie…” het hy oor die huurarbeiduitspraak herhaal.
Diegene wat sê hy minag die hof, moet volgens mnr. Kaaronda hul Grondwet beter lees. Na sy mening skend die federasie glad nie die waardigheid, aansien of gesag van die howe nie; nog minder meng die NUNW by hangende sake in.
Vir mnr. Kaaronda is senior advokaat Raymond Heathcote, voorsitter van die advokatebalie en soms self op die regbank, en mnr. Norman Tjombe van die Regshulpsentrum (LAC) se kritiek teen sy uitsprake ’n jammerte, en “loutere gemors” wat van selfaangestelde segsmanne eerder as demokraties verkose volksleiers kom.
“Die NUNW was nog altyd ’n baie verantwoordelike organisasie,” was sy antwoord op die vraag of dit in landsbelang is om “stories” oor beweerde gekookte uitsprake te versprei en met die haelgeweer los te trek sonder om die name van spesifieke individue of sake te noem.
Volgens mnr. Kaaronda gaan dit oor die verbetering van die totale regstelsel – wat die publiek beter moet dien – en is die noem van name dus onvanpas.