24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

20.08.2009

NUNW klim verkiesingswa

IN ’n voortgesette sluiting van partylinies voor November se nasionale verkiesings het die Nasionale Unie van Namibiese Werkers (NUNW) op ’n nuuskonferensie oor die vakbondfederasie se sentrale komitee-vergadering van die afgelope naweek opnuut alle interne struwelinge ten sterkste ontken en sy volle gewig eenparig agter Swapo ingegooi.

Waar die Regering al te dikwels onder die kwetsende tong deurloop van die uitgesproke mnr. Evilastus Kaaronda, sekretaris-generaal van Swapo se vakbondsambreel, is die karwats Dinsdag behalwe vir die land se heel hoogste geregtelike gesag, net uitgehaal vir die Pupkewitz-sakeryk (oor hul lelieblanke bestuur), die plaaslike bankwese en die besture van sekere semi-staatsinstellings.

Al teken van ’n interne stryd tussen vuurvreters en diplomate in die vakbondbeweging was ’n openbare skrobbering van die geskorste sekretaris-generaal van die Mynwerkersunie (MUN), mnr. Bro Joseph Hengari.

Mnr. Kaaronda het beriggewing dat die vakbonde uiteindelik behalwe miskien vir mnr. Kiros Sakarias, sekretaris-generaal van die Unie vir Voedsel en Verwante Werkers (Nafau), relatiewe liggewigte vir Swapo se kieskollege genomineer het, as onsin verwerp.

Oor sy eie besluit om nie self in die verkiesing te staan nie en die implikasies vir sy politieke loopbaan wou hy niks rep nie.

“Ek werk dan klaar vir die party,” het hy teruggeskiet. Mnr. Kaaronda, wie se kort lont glo al geruime tyd ’n groeiende steen des aanstoots in dele van Swapo is, het ook ontken dat hy dalk maar uit die wedloop gebly het om homself die vernedering van ’n nederlaag te spaar.

“Ek’s dan van nature ’n kansvatter (“risk taker”),” het hy verseker. Die NUNW se vyf genomineerdes was volgens mnr. Kaaronda die werkers se demokratiese keuse.

Die federasie, het hy verseker, gaan alle masjinerie tot sy beskikking inspan om die vyftal op Swapo se partylys te kry. ’n Versoek vir die blootlegging van die volledige lys genomineerdes en kiesuitslag is as “onbelangrik” verwerp.

Mnr. Kaaronda wou ook nie sê of Napwu al sy lank uitstaande affiliasiegeld aan die NUNW oorbetaal het nie. Die is volgens hom ’n suiwer administratiewe saak wat in elk geval nie op die sentrale komitee se agenda hoort nie.

Enige twis tussen hom en mnr. Peter Nevonga, sekretaris-generaal van die Staatsdiensunie (Napwu), het hy herhaal, is reeds ontlont. In werklikheid was die naweek se vergadering volgens mnr. Kaaronda die ordentlikste in ’n baie lang tyd, met geen “messe” wat in enigiemand se moue weggesteek is nie.

Hy het die federasie se grootste dank aan Swapo uitgespreek vir die groot vordering wat die party reeds met sy ontwikkelingsplanne gemaak het. Soos van ander verhoë is aangevoer dat Swapo eintlik al party is en vanjaar ’n groter oorwinning as ooit gaan smaak.

Die sege sal volgens mnr. Kaaronda ook die werkers se oorwinning wees. “Alle werkers moet Swapo stem,” het hy lidbonde namens die federasie gemobiliseer.

Die NUNW se sentrale komitee het besluit om dringend ’n tegniese komitee aan te stel om “reddingsmaatreëls” te ontwerp wat huiseienaars sal help bevry van beweerde onredelike groot en uitgerekte leningslaste. Die Rege-ring is terselfdertyd versoek om sy eie speurtog na die soort uitbuiting van stapel te stuur.

Werkerskapitaal by staatsondernemings soos die amptenary se pensioenfonds, die GIPF, en Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) kan volgens mnr. Kaaronda dalk eerder as reddingsboei vir huiseienaars of vir ander opregte bemagtigings- en ontwikkelingsinisiatiewe ingespan word.

Die NUNW se sentrale komitee het sy ondersteuning van die Regering se totale verbod op enige vorm van huurarbeid as ’n vorm van “moderne slawerny” herbekragtig.

Mnr. Kaaronda het die Hooggeregshof egter namens die federasie versoek om gou uitspraak te lewer in African Personnel Services (APS) se hangende appèl teen die verbod.

“Ons weet regtig nie hoekom die hof so lank neem om die saak te finaliseer nie,” het hy gekla.