31.08.2010 NUNW in loopgraaf
GEMOEDERE in Swapo se vakbondfederasie en die regerende party is op ’n mespunt oor watter aardbewings die komende naweek se kongres en leierskapsverkiesing van die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) in Windhoek dalk kan oplewer.
Vier jaar gelede het ’n kataklismiese indaba die kop van die vorige president van Swapo se vakbondbeweging laat rol.
Teen gister is daar selfs bespiegel dat die beraad, wat Vrydagoggend by die Hoërskool Anna Shipena in Katutura moet begin, dalk voorlopig in die agtergrond kan beland. Busse moet na wat verneem word binnekort uit die hoofstad vertrek om afgevaardigdes in die streke te gaan oplaai.
Na bewering het die federasie se sekretariaat egter steeds nie enige skriftelike nominasies vir die verkiesing, ’n enkele naamlys van enige lidbond se gesante of hul geloofsbriewe ontvang nie.
Volgens arbeidskenner Herbert Jauch staan die beweging midde ’n hewige stryd tussen sy sekretarisgeneraal, mnr. Evilastus Kaaronda, en die sekretaris-generaal van die NUNW se lidbond vir staatsdienswerkers (Napwu), mnr. Peter Nevonga, voor ’n kritieke toets. Net twee nominasies is blykbaar vooraf gefinaliseer.
Napwu se adjunk-sekretaris-generaal, mnr. Gabes Andumba, het bevestig dat die vakbond se sentrale uitvoerende komitee op 13 Augustus vir mnre. David Namalenga vir die vakante amp van president en vir mnr. Alfred Angula van die vakbond vir plaaswerkers (Nafwu) as nuwe sekretaris-generaal genomineer het.
Mnr. Nevonga sal volgens hom geen aanslag van die vloer loods nie.
“Ons kan nie ons eie nominasies weerspreek nie,” het mnr. Andumba verduidelik. Mnr. Bro Joseph Hengari van die Mynwerkersunie (MUN) het ontken dat die lidbond se bestuur die afgelope naweek sy steun aan ’n tweede termyn vir mnr. Kaaronda toegesê het en vir mnr. Elias Manga as president genomineer het.
“Ek gaan staan,” het mnr. Kaaronda egter by navraag verseker. “Buig of bars!”
Ander nominasies sal blykbaar van die vloer kom. Die blatante ignorering van hierdie grondwetlike reg was een van die kerndispute by die 2006-kongres, waar vooraf genomineerde leiers uiteindelik onbetwis verkies is.
Een bordjie by die kruispad waarvoor die NUNW staan, wys volgens mnr. Jauch, na dieselfde roete as vier jaar gelede, toe persoonlike struwelings, faksie-politiek en opportunisme na sy mening veel dwingender kwessies van die kongresagenda gestoomroller het.
Op die teenoorgestelde horison wink volgens die navorser ’n herlewing, wat sal vereis dat voetsoolagente hul voete moet dwars sit en aandring dat leiers op die “kwessies” fokus.
Volgens mnr. Jauch sal die kongres eenvoudig standpunt moet inneem oor sake soos die verkwisting van miljoene se beleggingsgeld by die staatsdiens se pensioenfonds (GIPF), die rol van vakbondleiers op hierdie raad van trustees en ander direksies, asook gepaardgaande vrae oor “selfverryking”. Die GIPF-debakel kan dalk vanoggend voor die Kabinet draai.
Onderwerpe soos die federasie se afskiet van die Basiese Inkomstetoelaag (BIG) en groeiende werkloosheid sal volgens mnr. Jauch ook nie doodgeswyg kan word nie. Terselfdertyd sal die sowat 800 afgevaardigdes na sy mening nie swakplekke in die beweging se mondering kan ignoreer nie.
In 2006 het gesante van die MUN en onderwysvakbond Nantu uit die kongres gestap ná ’n mosie van wantroue in mnr. Risto Kapenda as NUNW-president, wat die destyds geskorste sekretaris-generaal van die beweging, mnr. Peter Naholo, ’n kans wou gee om sy saak te stel. Vakbonde met agterstallige lidmaatskapfooie se deelname was ’n warm twispunt tydens die onstuimige beraad, waarheen die polisie selfs in een stadium ontbied is.
Aantygings van ondemokratiese en ongrondwetlike vergrype, blatante vooroordeel en voortrekkery het veroorsaak dat Nantu tydelik die oorbetaling van gelde aan die federasie gestaak het.
Vanjaar moet kongresgangers behalwe om oor mnr. Kaaronda se lot te beslis ’n nuwe president aanwys in die plek van mnr. Alpheus Muheua, nou Adjunkminister van Arbeid.
Die verkiesing, wat geadministreer sal word deur die Verkiesingskommissie (ECN) en die kantoor van die Arbeidskommissaris, vind tradisioneel heel laaste plaas. Die uitslag word teen laat Saterdag of Sondagoggend verwag.
|