6.09.2010 NUNW bal vuis
 Mnr. Evilastus Kaaronda (middel), wat by die naweek se kongres van Swapo se vakbondbeweging in ’n wegholoorwinning as sekretaris-generaal van die NUNW herkies is, en sy nuwe mede-leiers word deur ondersteuners omhels ná die aankondiging van die kiesuitslae gisteraand.
NAMIBIESE werkers het by die afgelope naweek se waterskeidingskongres van Swapo se vakbondbeweging ’n ondubbelsinnige boodskap aan die Regering gestuur dat die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) nie weens politieke affiliasie debakels soos die beleggingskandaal by die GIPF onder die mat sal help vee of leiers in eie geledere sal duld wat dalk politieke leibande dra nie.
Die kongres het ’n skerp bewoorde resolusie oor die GIPF aanvaar wat na wat verneem word onder meer die skorsing van die hele raad van trustees van die staat se pensioenfonds eis.
Afgevaardigdes het ook in beginsel die groen lig gegee vir die federasie se terugkeer tot die koalisie vir ’n basiese inkomstetoelaag (BIG).
’n Nuusvrystelling waarmee die GIPF laat Donderdag nog probeer het om van die angel uit die wanaanwending van miljoene uit die destydse Ontwikkelingskapitaalportefeulje (DCP) en die Kuleni-drama te haal, het min gedoen om gemoedere oor die kwessies te blus.
Eweneens was veldtogte om leiers met die “regte” politieke halsbandjies reg te skuif vir Swapo se volgende partykongres tasbaar onsuksesvol.
Mnr. Evilastus Kaaronda is op ’n golf van voetsoolpopulariteit met ’n wegholsege as die federasie se sekretaris- generaal herkies, terwyl die Kaaronda-kamp se kandidaat vir die presidentskap van die NUNW, mnr. Elia Manga, uiteindelik redelik gemaklik vir mnr. David Namalenga die loef afgesteek het.
Dit was al Vrydag met die opening van die kongres duidelik waar die massas se sentiment lę.
“Down with corruption, down! Viva Kaaronda, viva!” is dit Vrydagoggend en gisteraand weer luid van die vloer gebulder.
“Bring back GIPF stolen millions” en “Kaaronda 100% for workers” het twee groot baniere buite die saal van die Hoërskool A. Shipena in Katutura gelees.
Eerste Minister Nahas Angula en die Minister van Arbeid, mnr. Immanuel Ngatjizeko, het Vrydag beide op die vooraand van die November-verkiesings gevra vir die herstel van eenheid in die vakbondbeweging en ’n drastiese uitbreiding van die NUNW se ledetal, tans sowat 164 000.
Nie een het direk na die GIPF-tameletjie verwys nie, maar diplomaties minstens ’n skrobbering uitgedeel aan leiers wat ingesteld is op selfverryking en die behoeftes van hul volgelinge verraai. Die skerpste stekie wat die Premier ingekry het, was ’n veroordeling van diegene wat struwelings wat ander privaat moet bylę op “megafone” uitbasuin.
Die Eerste Minister het as hoofspreker vir Pres. Hifikepunye Pohamba ingestaan. Die Staatshoof en oudpres. Sam Nujoma was die eregaste, maar het Vrydag ’n militęre oefening van die Namibiese weermag in die Noorde bygewoon.
Volgens bronne het mnr. Peter Nevonga, sekretaris-generaal van die vakbond vir staatsdienswerkers (Napwu) en lang dienende lid van die GIPF se raad van trustees, self geen woord tydens ’n uiters stormagtige debat oor die pensioenfondspolemiek gerep nie, maar ander onsuksesvol probeer gebruik om die saak uit die jaarverslag en besluite te hou.
Ondanks soms vuurwarm debatte het die kongres die uitstapaksies van vier jaar gelede gespaar gebly.
Oor BIG is die federasie na wat verneem word ten gunste van ’n hersiening van die projek se finansieringsformule. Net die mees behoeftige inwoners en werkloses moet by ’n groter toelaag as die huidige N$100 per maand baat, terwyl die kongres benadruk het dat werklose Namibiërs ook op ander maniere bygestaan moet word.
Die NUNW se onlangse onttrekking uit die BIG-koalisie is wyd beskou as ’n politieke skuif om die Regering gelukkig te hou.
Die kongres se resolusies sal waarskynlik môre formeel aangekondig word.
Uiteindelik moes doodmoeë en honger afgevaardigdes wat Saterdag regdeur die nag op was om die agenda af te handel, vir langer as sewe ure vir die verkiesingsuitslag wag.
By sommige was die vrese vir ’n kokery hoorbaar te bespeur. Afgevaardigdes uit verafgeleë streke het geweier om die bus terug huis toe te klim voor die uitslag bekend was.
Toe die oorwinningstoesprake om 19:00 begin het, was net ’n klein groepie gesante nog teenwoordig.
“Back to basics,” het mnr. Manga die mandaat aan die NUNW se nuwe leiers benadruk.
Mnr. Kaaronda het 428 stemme op hom verenig teenoor mnr. Alfred Angula se skamele 183. Oor die naweek is uit sekere kringe in Swapo gewaarsku dat die onafhanklikheid van die vakbondbeweging in die weegskaal is as mnr. Kaaronda dit nie by die stembus maak nie.
Mnr. Manga is met 338 stemme teenoor mnr. Namalenga se 274 tot president verkies.
’n Voorgestelde grondwetlike wysiging wat mense in bestuursposisies vir leierskapsposisies sou diskwalifiseer en beide mnre. Manga en Namalenga se name van die stembrief sou vee, het skipbreuk gely omdat dit nie binne die voorgeskrewe spertyd ingedien was nie.
Die anti-Kaaronda kamp kon feitlik net een posisie inpalm, en die uitslag was maar naelskraap. Me. Connie Pandeni is naamlik met 305 stemme met ’n skrale vyf stemme tot eerste vise-president verkies. Me. Suona Itope het 300 stemme in die wedloop gekry.
Die nuwe tweede visepresident is mnr. Rocco Liswaniso (323 stemme), terwyl me. Bobby Kandjala met 385 stemme tot adjunksekretaris-generaal verkies is.
Die nuwe tesourier is me. Barbara van der Westhuizen (310 stemme) en mnr. Hendrik Wasserfall (312 stemme) die nuwe adjunktesourier.
|