DEBATVOERING op NBC se TVen radiokanale is die voorstel waarmee Nudo se Jeugliga (NYL) onlangs op ‘n mediakonferensie vorendag gekom het. Die gespreksgenote sal die kandidate vir die presidentsamp met die oog op die komende verkiesing wees.
Die sekretaris van die NYL se Khomas-st reek, mnr. Laste Ngueumenga, het redes aangevoer waarom presidensiële kandidate se debatvoering ‘n noodsaaklikheid is.
“Die behoefte bestaan dat presidensiële kandidate debatte oor verskillende kwessies moet voer, veral omdat jong mense verskillende politieke partye se veldtogte volg. Die doel is om 18-jarige Namibiese burgers wat besig is om polities volwasse te word, in te lig oor wat dit vir hulle beteken om vir die land se president te stem.
“Die debat kan ook ‘n belangrike rol speel in die uitslag van die verkiesing. Die gemeenskap en media-instellings moet platforms daarstel vir hierdie debatte om georganiseer te kan word en ‘n onafhanklike organisasie sal die debat moet hanteer. Die organisasie sal onafhanklik van enige politieke party moet optree,” het mnr. Ngueumenga gesê.
Sedert onafhanklikwording registreer kandidate van verskillende politieke partye twee keer per verkiesingsjaar – vir die presidentsverkiesing asook vir verkiesings vir lede van die Nasionale Vergadering.
“Die verhoor kan verskeie vrae tydens ‘n debat vra soos ‘waarom wil u president word?’ en ‘indien u tot president verkies word, wat sal u buitelandse beleid wees?’ Die kandidate vir die presidentsverkiesing moet weet dat die debat tot voordeel van ons nasionale eenheid en ons land se beeld sal wees.
“Die debatte sal gewone burgers kan bemagtig en hulle toelaat om die beleid van hul regering en so ook hul eie toekoms te kan bepaal. Die debat is die instrument wat gebruik kan word om demokrasie in ons land uit te oefen,” sê mnr. Ngueumenga.
Hy het bevestigend geantwoord op die vraag of hierdie tipe debatvoering in Namibië realisties en prakties moontlik is. Hy sê dat die debat nie soortgelyk aan dié van die VSA gaan wees nie.
Dit sal eerder aangebied word in die vorm van ‘n nuuskonferensie of onderhoud met een kandidaat op ‘n keer, in plaas daarvan dat twee of meer kandidate mekaar in ’n debat konfronteer.