
Die sekretaris-generaal van Nudo, mnr. Asser Mbai, tydens die aankondiging van die party se parlementêre verkiesingslys. Mnr. Mbai het ook aangekondig dat hy voortaan as die party se visepresident waarneem.
NUDO het sy lys van 72 moontlike parlementslede aangekondig ná die sentrale komitee van die party vroeër vanjaar besluit het om nie in die komende algemene en Presidentsverkiesing sy kragte saam met die van ander politieke partye te snoer nie.
Die nasionale buro, die sentrale komitee en kieskollege van die party het sedert Vrydag ’n reeks vergaderings gehou en die partylys is Sondag by Nudo se hoofkantoor in Katutura aangekondig.
Die sekretaris-generaal, mnr. Asser Mbai, het gesê opperhoof Kuaima Riruako is as die party se enigste presidentskandidaat genomineer en eenparig tot die posisie verkies.
“Na ’n lang proses van die daarstelling van relevante partyprosedures om aan die komende verkiesing deel te neem, het Nudo daarin geslaag om sy parlementêre verkiesingslys saam te stel soos deur die landswette voorgeskryf. Tydens die vergaderings het partylede hulself daaraan herinner dat Nudo ’n duidelike doelwit het om dinamiese spelers op die politieke horison van ons land te bly.”
Die partylys bestaan volgens mnr. Mbai uit 32 persent vroue en 16 persent van dié wat tot die parlementslys verkies is, kom uit die party se Jeugliga. Daarbenewens is dié keer seker gemaak dat die verskillende streke van die land beter op die partylys verteenwoordig is.
Mnr. Mbai het ook aangekondig dat hy voortaan as visepresident van Nudo gaan waarneem omdat hoofman Tumbee Tjombe die amp van gevolmagtigde opperhoof van die Hererovolk aanvaar het en nie meer sy aandag aan die party kan gee nie.