15.03.2010 Noodsaaklike handboeke gaan binnekort na skole
DIE Millennium Uitdaagrekening (MCA) het pas kontrake ter waarde van N$34.9 miljoen gesluit met sewe Namibiese publikasiemaatskappye om handboeke vir Wiskunde, Wetenskap en Engels vir graad 5 tot graad 12 te druk.
Die maatskappye wat betrokke is, is Edumeds, Longman, Macmillan, Namcol, Pollination, Karen D’Emiljo en Zebra. Die boeke sal daarna na 951 regeringen uitgesoekte private skole in alle streke van die land versprei word.
Sedert September 2009 het MCA die Ministerie van Onderwys gehelp met die ontleding van inligting wat ontvang is van skole regoor die land wat ’n groot behoefte aan handboeke ondervind.
Die verwagting is dat sodra die eerste boeke gereed is, elke skool volgens behoefte handboeke sal ontvang. Die MCA sal die handboeke in sarsies in ontvangs neem. Na verwagting sal die eerste aflewerings tussen Mei en Junie vanjaar plaasvind.
Die MCA het ’n toelae van US$304.5 miljoen wat deur die Millennium Uitdaagkorporasie, ’n Amerikaanse regeringsagentskap, beskikbaar gestel is, aan Namibië toegeken.
Die ooreenkoms versterk toegang tot en verbeter die gehalte van Namibië se opvoedkunde- en opleidingsektor, verbeter produktiwiteit op plase in kommunale gebiede en bevorder groei in die land se toerismebedryf.
|