
Die Cessna 210 lê op sy rug in die Namib ná ‘n mislukte noodlanding Saterdagmiddag naby Swakopmund se lughawe. Die vliegtuig het in die slag van die ongeluk bollemakiesie geslaan.
‘n NOODRIT is gister met twee beseerdes vanaf Swakopmund na Windhoek onderneem nadat ‘n ligte vliegtuig Sondagmiddag naby die lughawe in ‘n ongeluk betrokke was. Al ses die insittendes het wonderbaarlik aan die dood ontkom.
Die ongeluk het Saterdagmiddag omstreeks halfvyf gebeur toe ‘n noodlanding in woestyngebied skeef geloop het. Die voorwiel van die Cessna 210 het blykbaar met die landing op ruwe terrein afgebreek. Dit het volgens aanduidinge op die ongelukstoneel die neus van die Cessna in die grond laat vassteek , waarna die vliegtuig omgeslaan en op sy rug beland het.
Die onderstel is uitgeruk en die enjin het skeef by die wrak uitgehang. Die insittendes was ‘n gehuurde vlieënier van Suid-Afrika en vyf toeriste uit Duitsland. Die geselskap was op ‘n vlug van Pleasure Flights terug vanaf Sossusvlei toe die ongeluk gebeur het.
Die beseerdes op die ambulansritte na Windhoek was gister volgens mediese personeel me. Nicole Task en mnr. J. Loods, soos die ander toeriste almal van Duitsland. Task word vir nekbeserings behandel en Loods het ribbeserings opgedoen. Volgens beskikbare inligting het die vlieënier snywonde aan sy gesig. Volgens ‘n polisieverklaring was is vlieënier Jaco Basson.
Die name wat Nampol vir die toeriste verstrek het, is Peta Gorfent, Izak Gorfent, Stephan Ludge, Nicole Task en Gabriel Guduava. Die direktoraat Burgerlugvaart se hoofondersoekbeampte na vliegtuigongelukke, mnr. Ericson Nengolo, was Saterdagmiddag reeds op pad na die toneel.
Gisteroggend teen dagbreek was lede van die ondersoekspan op die plek waar die Cessna onder bewaking van wagte gelê het. Die plesiervlugte na Sossusvlei duur normaalweg van twee tot drie ure. Gewoonlik word op die terugvlug al oor die strand langs gevlieg en op stygbaan 24 geland.
Hierdie stygbaan is nou vir instandhoudingswerk gesluit en stygbaan 35 moes gebruik word. Naby die lughawe het die vliegtuig masjienprobleme ontwikkel, is gister in lugvaartkringe beweer. Toe is op die noodlanding sowat 2 km vanaf die stygbaan besluit. Lede van Swakopmund se munisipale brandweerdiens onder aanvoering van mnr. Tony Moller was van die eerste reddingspersoneel op die toneel.
Toe paramedici van E-Med op Walvisbaai op die toneel gekom het, het brandweermanne reeds twee van die insittendes op die grond gehelp met private mense wat die ander vier in motors versorg het. Die wrak lê sowat ‘n kilometer vanaf die hoofpad tussen Swakopmund en Windhoek. Dit lê sowat 300 m wes vanaf die grondpad tussen Swakopmund en Walvisbaai agter die duine. Dit is ook die pad wat die uraanmyn Langer Heinrich bedien.