
Me. Pendukeni Iivula-Ithana
SWAPO-STRUKTURE het minder as twee weke oor om die name van wenners in ’n interne proses vir die benoeming van kandidate vir November se streek- en dorpsraadverkiesings aan die regerende party se topleierskap voor te lê.
Me. Pendukeni Iivula-Ithana, Swapo se sekretaris-generaal, het bevestig dat ’n spesiale Politburo-vergadering oor die komende verkiesings die afgelope Maandag plaasgevind het.
Dinsdag 7 September, het sy gesê, is die spertyd vir die afhandeling van die “interne, demokratiese oefening” om kandidate te nomineer vir kiesafdelings in elke streekraad en nuwe partylyste vir plaaslike owerhede op te stel.
Hierna is nog byna ses weke oor voor die Verkiesingskommissie (ECN) se finale sperdatum vir die registrasie van kandidate op 18 Oktober verstryk. Dit laat ruim tyd vir die beoordeling van suksesvolle kandidate se getuigskrifte.
Met ’n openlike aanslag op ou en nat hout in Swapo, en ’n Jeugliga en Vroueraad wat hul oog op ’n groot deel van setels het, gaan die nominasiewedren waarskynlik landwyd verwoed wees.
Volgens me. Iivula-Ithana het die Politburo nie soos in die verlede gedoen is, ’n spesiale taakmag aangewys wat Swapo se veldtog gaan bestuur nie. “So iets is vir partye wat nog nie so gesout soos Swapo in die hou van verkiesings is nie en vanjaar nuwe dinge beplan,” het sy verduidelik.
Verslae oor ’n lang lys dissiplinêre aksies teen partylede in verskeie uithoeke van die land, was volgens die sekretaris-generaal nie Maandag op die agenda nie. Hierdie hangende geskille, het me. Iivula-Ithana gesê, sal eers onder bespreking kom by die volgende gewone sitting van die Politburo, wat voor die einde van September sal plaasvind.