Nog sewe sterf op paaie

MINSTENS sewe mense het in die week sedert die vakansieseisoen tot 'n einde gekom het, op die land se paaie gesterf.
Verlede Woensdag is die 15-jarige Johanna Ndinelao Nesheshe op slag dood toe sy deur 'n bakkie raakgery is terwyl sy die hoofpad tussen Outapi en Tsandi oorgesteek het. Die voorval het naby die Ompakoya-nedersetting tussen die twee dorpe gebeur.
Op die pad tussen Tsumeb en Grootfontein is 'n 25-jarige Zimbabwiese man Donderdag dood toe die voertuig waarin hy 'n passasier was van die pad geloop en omgeslaan het. Volgens die polisie se daaglikse misdaadverslag het drie ander mense wat ook in die voertuig was ernstige besering opgedoen. Die oorledene is as Ralph Tinashe Chikwakwa geïdentifiseer.
Vrydag is die sewejarige Os-car Angula van die Okapanda nedersetting naby Outapi dood toe hy deur 'n donkiekar dood-geval is. Hy en twee ander seuns het met die donkiekar gery toe dit omgeslaan en bo-op die kind beland het.
Drie mense het Vrydagaand gesterf toe hulle in 'n kop-aan-kop-botsing met 'n ander voer-tuig betrokke was. Mnr. Hans Rooi het die 1400-bakkie bestuur waarin Teresia Teek en Julian Ramona gesterf het. Hy is ook op slag dood.
Die voorval het omstreek 23:15 op die westelike verbypad gebeur. Dit is nie bekend wat met die insittendes van die ander voertuig gebeur het nie.
Naby Tses is Lydia Jos-sob Saterdag dood toe die voertuig waarin sy 'n passasier was van agter deur 'n vragmotor gestamp is. Twee ander mense is ernstig beseer toe die voortuig waarmee hulle op pad was ná die botsing gerol het. Jossob se ouderdom is nie bekend gemaak nie.
Indien dié getal en die dood van 'n vrou wat vroeër verlede week ge-sterf het by die dodesyfer van die vakansieseisoen gevoeg word, styg die aantal sterftes sedert die begin van Desember tot 92.