Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Motor 26 September

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

03.10.08

Walglike toestand in rykmansbuurt

02.10.08

Khomas-grote haal rekordboek

02.10.08

Twee gesinne in rou ná fratsongelukke op hul werf

01.10.08

Wittebroodsnag in selle

01.10.08

Harry Simon op sy knieë

6.06.2008

Nog ’n aanslag op Ooste-boere

© Ronelle Rademeyer
Mnr. Mike Kraft (71) en sy vrou, Sabine (68), is genadeloos op hul plaas by Dordabis deur ‘n gewapende rowerbende van vier geslaan, geskop en rondgesleep.
DIE aanval op die bejaarde Kraftegpaar van die internasionaal bekende Ibenstein-plaas en wewery by Dordabis, maak hulle moontlik die jongste slagoffers van ‘n roofsindikaat wat op plase in die Ooste ‘n skrikbewind voer.

Die aanval op die voormalige president van die Simmentalertelersgenootskap, mnr. Mike Kraft (71) en sy vrou, Sabine (68), volg anderhalfweek nadat boere lede van ‘n sindikaat met ‘n soortgelyke modus operandi met behulp van vliegtuie en voertuigpatrollies naby Uhlenhorst aangekeer het. Die plaas Ibenstein is reeds 100 jaar in die familie se besit.

Mnr. Kraft is die kleinseun van die bekende August Stauch, vader van die Namibiese diamantbedryf. Mnr. Kraft se ma, Marianne, was die stigter van die Ibenstein wewery wat tot in die buiteland vir karakoelmatte en ander geweefde produkte bekend is. Die Krafts het omstreeks halfnege eergisteraand televisie gekyk toe die vier mans aan die teenoorgestelde kant van die huis die gaas voor ‘n buitedeur gesny en toegang tot die slaapvertrekke verkry het.

Me. Kraft het haar juis in daardie stadium verskoon en na hul slaapkamer gegaan omdat sy wou pak vir die Europese vakansie van drie weke waarop die egpaar môre sou vertrek. Die plaasopstal bestaan uit twee afsonderlike wooneenhede – een huisves die leefvertrekke en kombuis en die ander een die slaap- en badkamers.

Toe me. Kraft die ligte aanskakel om na hul slaapkamer te gaan, is sy oorrompel en met ‘n skokstok (prodder) op haar linkeroog en –wangbeen geslaan. Die mans wat Afrikaans en Oshiwambo gepraat het, was ongemasker.

Volgens die egpaar is hulle in hul vroeë twintigerjare. Een van die mans het by me. Kraft agtergebly en geld en vuurwapens geëis, terwyl die ander drie na die voorste gedeelte van die opstal is waar mnr. Kraft nog televisie gekyk het.

Hulle het hom van agter oorrompel en toe mnr. Kraft hom teësit, het een van die mans geskree: “Skiet die hoerkind dood! Skiet hom dood.” Een van die aanvallers het ‘n skoot gevuur, maar die koeël het mnr. Kraft gemis en in die muur vasgeslaan.

Met Republikein se besoek gister aan Ibenstein het die patroondoppie nog op die koffietafel gelê in die vertrek waar die stoeiery plaasgevind het. “Hulle het my pa met ‘n koevoet en bandligter (tyre lever) geslaan terwyl hulle geld en vuurwapens geëis het. Hulle het hom ook van vertrek na vertrek gesleep. Sy rug is nerfaf geskuur,” sê mnr. René Kraft. Hy en sy vrou, Ilona, woon sowat een kilometer van sy ouers.

Die bejaarde egpaar se ander seun, Martin, sê sy ma het die hele tyd probeer om die rowers tot bedaring te bring. “Sy het vir hulle gesê hulle moet aan hul eie ouers dink en hulself afvra hoe hulle daaroor sal voel as iemand hul ouers so aanrand. Sy het ook vir hulle gesê hulle moet die geld en vuurwapens vat en haar en my pa nie seermaak nie.” Die bende is uiteindelik na sowat twee ure per voet van die plaas vort. Dit was nadat hulle die bebloede egpaar in twee afsonderlike vertrekke met elektriese koord vasgebind het.

Die vermoede is dat ‘n motor hulle by die teerpad tussen Windhoek en Dordabis ingewag het. Dié pad loop sowat een kilometer van die opstal verby. Mnr. Kraft en sy seun, René, besit die winkel en vulstasie op Dordabis. Mnr. Kraft (sr.) is sowat seweuur die aand uit die winkel weg na sy plaasopstal.

Hy het die geld met hom saamgeneem om daar in ‘n kluis toe te sluit. Teen gistermiddag was dit nog nie duidelik hoeveel geld gesteel is en wat nog uit die huis vermis word nie. Die moontlikheid bestaan dat ‘n persoon of persone wat die omstandighede op Ibenstein ken, met die roofbende saamgewerk het.

Volgens mnr. René Kraft is daar verlede jaar en die jaar vantevore by hul winkel ingebreek en elke keer is tussen N$20 000 en N$30 000 gesteel. “Die polisie sal die vingerafdrukke wat in my ouers se huis gevind is, vergelyk met dié wat na die inbrake in die winkel gekry is.” Daarbenewens het hy gister foto’s van die bende se voetspore per vonkpos aan mnr. Hoekus van Niekerk by Uhlenhorst gestuur.

Mnr. Van Niekerk was lid van ‘n uitgebreide soekgeselskap wat drie lede van ‘n diefstalsindikaat by Uhlenhorst vasgetrek het. Mnr. Van Niekerk sou gister die voetspore wat op Ibenstein gevind is, vergelyk met die voetspore van die sindikaat wat by Uhlenhorst vir nie minder nie as vyf inbrake op plase verantwoordelik is. Teen druktyd gisteraand is niemand nog in verband met die aanval op die Krafts in hegtenis geneem nie, hoewel die polisie se eenheid vir ernstige misdaad en die lede van die spesiale taakmag

Ronelle Rademeyer op Dordabis