5.02.2010 Net een tender vir Okahandja-verkiesing
 Beamptes van die Tenderraad maak die enkele tender oop wat vir die druk van stembriewe vir die tussenverkiesing op Okahandja ontvang is. Die tender is van Solitaire Press ontvang.
NET een tender is ontvang om die 16 000 stembriewe vir die tussenverkiesing op Okahandja te druk. Toe die tenders Woensdag om 12:00 gesluit het, was net Solitaire Press, ’n Namibiese maatskappy, se tenderdokumente by die Tenderraad ingedien.
Die drukkery kwoteer N$66 930 om die taak uit te voer. Die Verkiesingskommissie sal nou die tender nagaan en besluit of Solitaire Press aan die tendervereistes voldoen voor ’n besluit oor die toekenning van die tender geneem word.
Opposisiepartye het verlede jaar in die aanloop tot die verkiesings vir ’n President en lede van die Nasionale Vergadering kapsie gemaak en met ’n hofsaak gedreig teen die toekenning van die kontrak vir die druk van stembriewe aan NamPrint, die drukkery wat aan Swapo behoort.
Solitaire Press het verlede jaar ook vir die druk van stembriewe getender, maar was nie suksesvol nie.
Die voorlopige kieserslys vir die tussenverkiesing op Okahandja bevat die name van net meer as 14 250 kiesers.
|