9.08.2010 Namibiërs moet sê
 Me. Magrieta Ihuhua, moeder van die ontslape Magdalena Stoffels, tydens die roudiens wat Saterdag in die skoolsaal van die Hoërskool Dawid Bezuidenhout gehou is.
LANDSBURGERS sal in die nasleep van die samesnoerende Stoffelstragedie opnuut regoor Namibië die kans kry om self inspraak te lewer oor hoe die skoolmeisie se sinlose grudood neerslag in nuwe oplossings vir ’n plaag seksuele gewelddade moet vind.
Die Nasionale Raad, het me. Margaret Mensah-Williams in haar boodskap by ’n roerende massabegrafnisdiens in Khomasdal vir die 17-jarige Magdalena Stoffels aangekondig, sal vir die drie weke vanaf 16 Augustus tot 6 September die hele land deurkruis om gemeenskappe se idees vir die bekamping van sulke misdade te toets.
Me. Mensah-Williams het gesê die Raad het reeds ’n mosie vir swaarder strawwe en die beter beskerming van slagoffers aanvaar. Wetgewers, het sy onderneem, sal geen steen onaangeroer laat om geregtigheid te laat geskied nie.
Die geweldsprobleem sal egter voortdurend by sy wortels gepak moet word. Solank die soort gruwels voortduur wat teen Magdalena gepleeg is, het me. Elma Dienda van die Katolieke Kerk se Vrouebeweging gesê, is Namibiërs ná 20 jaar se onafhanklikheid nog nie naastenby vry nie.
“So baie dankie dat julle die bome afgekap het,” het me. Dienda gesê.
Die mosterd na die maal optrede is egter volgens haar nie naastenby genoeg nie.
“Alle vorme van geweld in ons land is ongeregverdig,” het sy beklemtoon.
“Ons moet dinge van die grond af begin regmaak.”
Daar was luide applous toe sy die besluit betreur het om godsdiensonderrig uit Namibiese skole te haal. “Ons probleme het begin die oomblik toe ons gesê het ons het God nie meer nodig nie,” het me. Dienda aangevoer.
As die polisie nie vroue en kinders kan beveilig nie, moet die weermag se hulp volgens haar ingeroep word.
Pastoor Fred Gawiseb het gesê Namibiërs moet die Bybels terug in hul huise bring. Gesins- en gemeenskapslewens sal volgens hom saam met opvoeding dringend reggeruk moet word.
“Die kerk en die Regering het die plig om burgers se lewens te transformeer,” het hy benadruk.
“Ek het self so baie deur daardie rivier geloop,” het me. Eva Schimming die woorde van haar eie dogter onthou.
Sy en me. Sannie Ockhuizen het in een van die roerendste oomblikke van die diens ’n matriefafskeidruiker vir Magdalena aan haar moeder, me. Magrieta Ihuhua, oorhandig.
“Ek was ’n slagoffer op 9 September 2008,” het me. Schimming die nag onthou toe drie mans by haar en twee meisiekinders se huis ingebreek en haar skootrekenaar en handsak gesteel het. Een het op haar geskiet toe sy hulle agterna gesit het.
“Prys die Here dat ek oorleef het,” het me. Schimming gesê. “Hoeveel mense kan vandag hul eie soortgelyke stories vertel?”
“Vandag is inderdaad ’n hartseer dag vir die hele Namibië waar ons hier vergader om ’n jong dogter ter ruste te lê wat van ons gesteel is.
“Ons rou en ons betreur die tragiese verlies van ’n lewe,” het past. Vivian Hockey gesê.
’n Magdom mense het Saterdag die begrafnis bygewoon. Die roudiens is by die Hoërskool Dawid Bezuidenhout se skoolsaal gehou en die saal was so vol dat sommige van die roubeklaers buite moes sit en op luidsprekers na die diens luister. Van die mense wat nie sitplek gehad het, was bereid om vir vier ure te staan. Die teraardebestelling het by die Khomasdal begraafplaas plaasgevind. Begrafnisgangers het “Daar is ’n plek van sielerus, naby die hart van God” gesing waarna ’n gebed gedoen is. Terwyl die kis in die graf afgesak het, het die gemeente “The time has come to say farewell to Maggy, How sad we are to say farewell to you” gesing.
Magdalena se ouers, mnr. Victor en me. Magriet Ihuhua, saam met hul ander seun en dogter het stil toegekyk. Die familie is hierna toegespreek met trooswoorde en gebed waarna die graf toegemaak is.
 Ouers sê dankie. Mnr. Victor Ihuhua en sy vrou, Magrietha, saam met me. Hilda Isaak, sy vrou se niggie, was alte dankbaar vir die boodskap in die spesiale koerant van Democratic Media Holdings wat hulle as nagedagtenis aan die tragedie kan bewaar. Die gratis publikasie wat nuus en foto’s oor die roudiens en die begrafnis bevat, het Saterdag kort na die begrafnis danksy Republikein en sy stalmaat Namibian Sun op straat verskyn. Die foto is geneem nadat die familie die eerste koerante ontvang het.
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon. In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.
|