Namibiër op die vlug in SA

?n NAMIBIES gebore man, mnr. Johannes (Johan) Christiaan Kotze (51), word deur die Suid- Afrikaanse polisie gesoek nadat hy glo Dinsdag drie van sy werkgewers met ?n vuurwapen gedreig het om sy vervreemde vrou te verkrag en haar borste te skend, waarna hy self sy 20-jarige stiefseun doodgeskiet het.

Die voorval het Dinsdagaand op Modimolle (Nylstroom) in die Limpopo- provinsie in Suid-Afrika plaasgevind, het luitenant- kolonel Mabisela Mohale telefonies aan Republikein bevestig.

Volgens Mohale het Kotze, ?n vleisverspreider van beroep, glosy 42-jarige Suid- Afrikaanse vrou, me. Ina Kotze, van wie hy vervreem was, gebel om te reël dat hy haar persoonlik kan sien om hul huweliksprobleme uit te pluis. Die egpaar was na bewering besig om te skei.

Kotze en drie van sy werknemers het glo later by sy vrou se huis ingebars, haar hardhandig na haar kamer gedwing en op die bed vasgemaak, waarna die drie werknemers deur Kotze met ?n .22-geweer gedwing is om haar te verkrag.

Die vrou het ook verskeie steek- en snymerke aan haar borste gehad. Dit blyk dat die aanvallers probeer het om haar borste af te sny.

Die geraas het die aandag van haar 20-jarige seun, ?n student aan die Universiteit van Pretoria, getrek en toe hy ondersoek wou instel, is hy glo deur Kotze met die .22 noodlottig in die kop gewond. Hy is op die toneel oorlede.

?n Gewapende Kotze en sy drie werknemers het daarna met ?n wit Toyota Fortuner met ?n Vrystaatse registrasiemerk (DCS 392 FS) op vluggeslaan. Beeld het berig dat Kotze gistermiddag op Kimberley in die Noord-Kaap deur die polisie vasgetrek is, maar Mohale het dit gisteraand teen druktyd ten sterkste aan Republikein ontken. ?Die polisie op Kimberley kon nie aan my bevestig dat hy in hegtenis geneem is nie.?

Ina is Kotze se tweede vrou. Mohale kon nie sê hoe lank die Kotzes op Modimolle woonagtig is nie, maar het wel bevestig dat die egpaar ?n huis daar gehuur het. Ina werk by PSG Consult op die dorp. Een van die direkteure van die onderneming, mnr. Danie Human, het gesê dat sy ?n geruime tyd daar werksaam is en ?n uitstekende werker is.

Weens die sensitiewe aard van die saak wou Human geen verdere inligting verskaf nie.

Volgens Mohale is me. Kotze se toestand stabiel en is sy reeds uit die hospitaal ontslaan. Sy bevind haar tans in ?n plek van veiligheid. Buiten haar vermoorde seun het sy nog ?n dogter.

Die Suid-Afrikaanse polisie is in besit van Kotze se Suid-Afrikaanse identiteitsdokument wat aandui dat hy in 1961 in die destydse Suidwes-Afrika gebore is.

Enigiemand met inligting oor Kotze kan Mohale by sel. 0027 82 565 8606 kontak.